
SECUNDA – Verskeie pensioen-trekkers van Secunda is hul geld kwyt nadat hulle dit by ‘n onderneming belê het.
Volgens die bekende speurder, mnr. Mike Bolhuis wat tans dié saak ondersoek, is daar reeds sowat 400 klaers in die saak en R70-miljoen skoonveld.
“Die meeste mense kan nie eers die R500 fooi wat ons vra om die saak te ondersoek, betaal nie, want hulle het alles verloor,” het mnr. Bolhuis gesê.
Volgens hom kom die meeste klaers vanaf Secunda en Bloemfontein. Die man wat met die bedrog verbind word, het meestal vanuit ‘n kantoor in Durban gewerk, maar ook agente op verskeie dorpe gehad wat vir hom gewerk het.
Van dié agente het self ook geld verloor wat hulle by hom belê het asook hul families en vriende.
Die man gebruik sy Christenskap om besigheid te doen en laat almal verstaan hy is ‘n groot Christen.
Mnr. Bolhuis het die publiek gewaarsku en gesê as iets te goed klink om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees.
“As jy iemand met so baie geld wil vertrou, kyk eers na sy vrugte en sy lewenstyl,” het mnr. Bolhuis gesê.
“As beleggers persentasies aanbied wat nie in lyn met die bank is nie, moet jy weet daar is ‘n vorm van onwettigheid.”
Volgens die privaatspeurder, mnr. Vaughan Schwartz, was die man op ‘n stadium landuit, maar hy is intussen glo terug in Suid-Afrika.



