Local newsNews

Jong vrou glo God het haar nekfraktuur herstel

Christel skryf graag gedigte en wil digbundel publiseer

SECUNDA – Me. Christel Jordaan (27) glo in wonderwerke.

Sy was op 25 April vanjaar in ‘n motorongeluk op Secunda betrokke toe iemand in haar voertuig vasgery het.

Sy het twee werwels in haar nek gebreek.

Dokters van twee hospitale het vir haar gesê hulle is oortuig hulle moet opereer om die skade te herstel.

“Ek het ook gehoor dat as hulle sou opereer, die kanse dat ek ná die operasie ‘n kwadrupleeg sou wees, baie groot is,” het me. Jordaan vertel.

Die neuroloog wat na me. Jordaan se verslag gekyk het, het gesê die nekbeserings wat sy opgedoen het, is verskriklik.

Hospitaalpersoneel het me. Jordaan se ma, me. Magda Jordaan, eenkant geneem en gesê sy hoef nie bekommerd te wees nie, haar dogter sal in goeie hande tydens die operasie wees.

Toe die nuus van haar voorgenome operasie versprei het, het baie mense van haar kerk, selgroep, vriende en familie vir haar begin bid.

“My ma het vir my gesê in moeilike situasies kan ons net die Here vra vir hulp.

Sy het gesê ons gaan net weier om slegte nuus te ontvang, want die Bybel sê in Psalm 112:7: ‘Hy vrees nie vir slegte tyding nie: sy hart is gerus, vol vertroue op die Here’.

“Sy het ook gesê daar is krag in ‘n mens se woorde en ek moet die Here vertrou vir ‘n goeie verslag.”

Me. Jordaan se ma het vertel dat sy gesien het hoe die dokter na die skanderings wat vroeër geneem is, gekyk het en dit met dié wat weer geneem is net voordat die dokter haar dogter sou opereer, vergelyk het.

“Ek het in daardie tyd gebid en vir die Here gesê ons ontvang geen slegte verslag nie, net ‘n goeie verslag,” het me. Magda Jordaan vertel.

“Dit was asof die dokter oor en oor na die twee verslae gekyk het en hy het dit op so wit masjien gesit, dan kyk hy na die skerm van die masjien en dan weer na die verslag in sy hande.”

Me. Chirstel Jordaan het vertel die dokter het oomblikke later na haar kamer gekom en gesê: ‘Gister het ek vir julle slegte nuus gehad, maar vandag het ek vir julle goeie nuus.’

“Hy het gesê dit is nie meer nodig om te opereer nie en toe ek in Mei teruggegaan het na die dokter vir ‘n opvolgondersoek, was daar nie meer ‘n fraktuur in my nek nie,” het me. Christel Jordaan gesê.

Me. Jordaan en haar ma glo dit is weens die Here se genade en almal se gebede dat sy op dié dag in April goeie nuus van die dokter gekry het in plaas van slegte nuus.

“Ek wil vir mense sê gebed werk.”

Me. Christel Jordaan skryf graag gedigte in haar vrye tyd en 12 van haar skryfstukke is reeds in drie boeke gepubliseer.

Haar droom is om eendag haar eie digbundel uit te bring.

Sy het al vir verskeie skryfkompetisies ingeskryf. Sy het eintlik eers in 2016 haar skryftalent begin ontgin toe sy ‘n skryfkursus aan die Universiteit van Potchefstroom bygewoon het.

“Ek het lankal die passie gehad om te skryf, maar nooit leiding gehad oor hoe om dit te ontgin nie,” het me. Jordaan vertel.

Ná die kursus het sy vir die kompetisies ingeskryf en in 2018 derde geëindig en in 2019 tweede.

Een van haar dagstukkies is in 2018 in ‘n dagboek vir vroue, Waar God lei sal Hy voorsien, gepubliseer.

Dit was deel van ‘n kompetisie in die Finesse-tydskrif en die opdrag was om ‘n vrou van die Bybel te kies en ‘n kort dagstukkie oor haar te skryf.

“Ek het Hanna gekies.

“Sy het vir my uitgestaan en bewys dat die Here kan ‘n mens se klaaglied in ‘n lofsang verander.”

“Ons moet Hanna se voorbeeld volg en vertel van God se goedheid.”

Van haar ander gedigte is in ‘n digbundel, Kweterrr!! en nog ‘n digbundel, Sprankel! gepubliseer.

Me. Jordaan se gunsteling-gedig wat sy geskryf het, is Strome van Dankbaarheid, en dit is ook in een van die digbundels gepubliseer.

Strome van Dankbaarheid
My oë loop af in strome van water,
Want die Koning
Gebied goederierenheid
Oor my
Met welbehae
word ek versadig
in die vergadering van die gunsgenote
sal my lippe lofsange laat uitstroom
Die Koning se beloftes is soet:
meer as heuning vir die Mond
My hart jubel en juig:
die Almagtige
is my toevlug en
my magtige Helper

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button