Local newsNews

Vrou is kreatief met Kerskoeke

"Daar is soveel verskillende maniere hoe 'n mens Kerskoeke kan versier en soveel wat 'n mens kan doen."

SECUNDA – Koekversiering en kreatiwiteit help me. Veronica Bentz om te ontspan.

Sy was vir 15 jaar by die suikergilde betrokke en is die afgelope paar jaar deel van die Suikerbekkies, ‘n groep vroue wat hul toespits op koekversiering en suikerkuns.

Me. Bentz en haar man, Danie, woon die afgelope 41 jaar op Secunda. Hulle het vanaf Pietermaritzburg hierheen verhuis.

Albei was eers in die polisie, maar toe mnr. Bentz na die Sani-pas verplaas is, was daar nie ‘n pos in die polisie vir me. Bentz nie.

Sy het vir ‘n jaar nie gewerk nie en eers later, toe die egpaar op Secunda ingetrek het, weer begin werk.

Mnr. Bentz het later sy werk as polisieman vir werk in veiligheid by Sasol verruil en me. Bentz het as klerk vir Sasol begin werk.

Sy het ná haar aftrede, by die suikergilde aangesluit en meen koekversiering het vroeër jare meer fyn werk vereis as vandag.

“Daar is baie vorms wat ‘n mens deesdae kan koop om jou te help om koeke te versier,” het me. Bentz gesê.

Sy het destyds gereeld koeke vir Silwerjare Ouetehuis en die DBV gebak wat dan uitgeloot is om dié ondernemings te help om geld in te samel.

“My ma se vriendin het altyd koeke gebak en versier en haar kinders het klasse geneem hoe om koeke te versier. Ek het toe gesê ek wil dit ook doen.

“Ek kon nie ophou kyk vir die eerste blom wat ek uit versiersuiker gemaak het nie.

Dit was so mooi vir my en ek kon nie glo ek het dit gemaak nie.”

Me. Bentz bak graag vir familie en vriende koeke vir spesiale geleenthede en het haar seun se troukoek van Secunda na die Kaap vervoer.

Sy geniet ook om naaldwerk te doen en maak self gordyne, kussings en sweetpakke vir haar kleinkinders.

Sy is dol oor Kersfees en hang dan uit met vrugtekoeke wat spesiaal volgens die Kersfees-tema versier is. Sy verskaf dié koeke ook aan haar seun wat dit aan sy kliënte by sy onderneming gee.

“Daar is soveel verskillende maniere hoe ‘n mens Kerskoeke kan versier en soveel wat ‘n mens kan doen.”

Sy is trots dat sy al die 0/20 Junior Springbokrugbyspan se beker vasgehou het toe hulle gewen het. Haar seun was by dié span se afrigting betrokke.

Me. Bentz het drie kinders en vyf kleinkinders en in haar vrye tyd bestee sy graag tyd saam met hulle as sy en mnr. Bentz in die Kaap kuier.

Me. Veronica Bentz versier haar Kerskoeke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button