Local newsNews

Flip Coetzer neem inventaris van sy lewe

Met sy lewendige belangstelling in politiek volg hy getrou nasionale en internasionale nuusgebeure met in sy eie woorde, ’n oopkopbenadering.

Of mnr. Flip Coetzer nou met sy 31-jarige rooi Golfie of grys Mercedes-Benz, ook 31-jaar in sy besit, die pad vat, weet maar goed, hy verloor nie beheer oor die voertuie of sy lewe nie.

“Ek het sover ‘n baie egalige lewe gelei,” aldus Flip.

Flip en Martie is reeds 58 jaar getroud en die oud-werknemer van Anglo-American het vanaf Carltonville, verplasings aanvaar na Botswana, eMalahleni (Witbank), Kriel totdat hulle op Standerton in 1981 kom nesskop het.

As inventarisbestuurder was hy goed vertroud met hoe al die ratte van ‘n myn inmekaargesit is om produksie te verseker.

Die Coetzers het na Flip se aftrede, met ‘n allemintige 35 jaar diens, in ‘n meenthuis op die dorp ingetrek waar fluks tuin gemaak word.

Boontjies, wortels, ertjies, tamaties, komkommers en spinasie groei welig in die groentetuin waar Martie se groen vingers daarna die inmaak sal behartig.

Die tuin spog ook met ‘n perske-, vye-, witstinkhout-, suurlemoen- en blommende pruimboom.

Die flessies ingemaakte konfyt in die motorhuis getuig ook van Martie se vaardighede.

“Daar is net een vrou wat soos sy melktert en souskluitjies kan maak,” het Flip ruiterlik beken.

Boeregasvryheid ietwat later oor ‘n koppie koffie het dié stelling bevestig.

’n Hoekie in die Coetzers se tuin wat lafenis vir die oog bied.

Die egpaar is geseënd om drie generasies Coetzers te kan beleef, twee dogters, Deonette en Yolanda, se gesamentlike ses kinders het die stamboom laat aangroei tot twee agterkleinkinders.

Yolanda en haar man Rex Robinson woon in Australië, maar familiebande word gereeld verstewig met kuiers en digitale tegnologie om foto’s aan te stuur.

Deonette en twee van haar kinders woon op Standerton.

Flip het diep spore in die gemeenskap getrap en was tot verlede jaar nog voorsitter van die plaaslike Cansa-tak, ‘n komiteelid sedert 2013.

Daarbenewens was hy aan die stuur van sake by die Kosmos Aftree-oord vir ‘n geruime tyd waar die belange van die bejaardes in die gemeenskap vooropgestel is.

Die Hansie Wessels-siekeboeg in die tehuis is eweneens op sy kerfstok.

Ook was jy vir ‘n jaar voorsitter van die SAVF se Gesinskrisissentrum in Schwickardstraat.

Hy het 34 jaar as ouderling op die kerkraad van die Hervormde Kerk gedien en dit was geen vreemde gesig om hom by hulle basaars te sien, agter die braaivleisvure nie.

“Ek het ten minste ses predikante gesien kom en gaan.”

Die Bybelse beginsel om ander te behandel soos wat hy self behandel wil word, het hy sy eie gemaak.

Sy lewe wentel om ligte musiek en hy heg sentimentele waarde aan die kunswerke in sy huis.

Flip het ‘n kleintjie dood aan arrogansie wat volgens hom, noodwendig lei na boelie waarsonder ‘n gemeenskap kan klaarkom.

Met sy lewendige belangstelling in politiek volg hy getrou nasionale en internasionale nuusgebeure met in sy eie woorde, ‘n oopkopbenadering.

Dié Blou Bul-ondersteuner se voorspelling vir die Bokke se kanse in die Wêreldbeker het ietwat kopkrap gekos.

“My hart sê ja, maar my verstand sê nee.”

Hoogtepunte sou daar wel wees in sowel sy persoonlike as professionele lewe, maar die 83-jarige man het ter afsluiting net sy lewensfilosofie bewoord;

“Ek wil graag my nageslag ‘n gelukkige en gesonde lewe sien lei.”

Mnr. Flip Coetzer vestig die koerant se aandag op ‘n perske in die boom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button