Theus is op Standerton en agter die kamera tuis
Theus Badenhorst van Standerton het baie merkies op sy kerfstok van alles wat hy reeds beryk het. Sy vernuf om met leer te werk het nie net by die maak van ’n toom en saal gebly nie.
Mnr. Theus Badenhorst van Standerton het baie merkies op sy kerfstok van alles wat hy reeds bereik het.
Omdat hy ‘n baie gespesialiseerde saal vir perdry wou ontwerp, moes hy noodgedwonge leer hoe om met leer te werk.
Hy het dit vinnig baasgeraak en met die ontwerp van dié unieke saal begin.
Wat die saal so anders maak, is dat dit by die perd se bou kan aanpas.
Die gewig van die ruiter word meer eweredig versprei, wat help dat die saal nie net drukking op een plek plaas nie.

“Ek met die jare se perdryondervinding besef dat ‘n ruiter se postuur baie van die saal afhang. Ek wou dit self aan die begin nie glo nie. Nadat ek gesien het watter groot verskil die regte saal maak, het ek besluit om my eie saal te ontwerp en te maak,” het mnr. Badenhorst vertel.
Alles aan en op die saal word met die hand deur hom gemaak.
Sy vernuf om met leer te werk het nie net by die maak van ‘n toom en saal gebly nie.
Hy kan hoede, belde en sakke ook maak.
“Ek geniet wat ek doen en dit is vir my lekker om kreatief te wees. Al my belde word aan die agterkant met webbing gevoer. Dit maak die belt soveel sterker en hou natuurlik langer.”

Hy woon op ‘n plaas buite Standerton en die oop vlaktes dra tot sy kreatiwiteit by.
Mnr. Badenhorst se kreatiewe denke stop nie net by perdry en leerwerk nie.
Hy het intussen weer ‘n nuwe uitkyk op die lewe deur sy kamera se lens ontdek.
“Ek het vir eers perdry opsy geskuif. Fotografie het ‘n nuwe wêreld vir my laat oop gaan. Fotografie het baie uitdagings en nie een foto lyk dieselfde nie. Met ‘n kamera is jy glad nie beperk nie. Ek sal graag meer by bemarkings- en selfs dokumentêre fotografie betrokke wil raak.”

Mnr. Badenhorst het ‘n manier om die emosie en atmosfeer van ‘n geleentheid vas te vang.
Selfs wanneer hy beeste afneem, kry hy dit net reg om die ‘regte kant’ van die bees vas te vang.
Hy het reeds die verfilming en verwerking van videomateriaal bemeester en beïndruk ook mense wat nie eens ‘n liefde vir fotografie het nie.
Hoewel hy nog perd ry, het sy fokus nou vanaf die perd na voor die kamera verskuif.
Humoristiese foto’s van perde en rou emosie van mense is reeds deel van sy portefeulje.
Omdat hy ‘n eenvoudige leefstyl nastreef, is dit vir gemaklik om oor die lewe en toekoms te filosofeer. Ook dié uitgangspunt word in van sy foto’s uitgebeeld.




