Bykans 100mm reën sak op Eendracht uit
Die meeste huise se krag was af en op Maandag, 4 November was daar steeds huise wat se krag nie herstel was nie. Baie het ook nie water gehad nie en teen Saterdagaand was dit net vir ’n rukkie beskikbaar. Die watertoevoer is eers op Sondag, 3 November ten volle herstel.
EENDRACHT – Inwoners van dié dorp sukkel steeds om skade te herstel ná ‘n haelstorm en sterk wind groot skade aan huise gerig het.
Stormsterkwind en baie hael het Vrydag 1 November op die dorp uitgesak.
Die meeste huise se krag was af en op Maandag, 4 November was daar steeds huise wat se krag nie herstel was nie.
Baie het ook nie water gehad nie en teen Saterdagaand was dit net vir ‘n rukkie beskikbaar.
Die watertoevoer is eers op Sondag, 3 November ten volle herstel.

Me. Antoinette Stoltz, ‘n inwoner, het vertel: “Ek woon al 12 jaar hier en dit is die eerste maal dat dit ons só ernstig tref. Vanoggend sien jy oral mense op huise se dakke.
“Dit het eers so teen 5.40nm begin hael. Die haelkorrels was net so groot soos duifeiers, maar dit was baie.”
Die hael het eers teen Saterdag gesmelt en inwoners kon toe eers behoorlik die skade bepaal.
“Ons huis was onder water en die een deel waar daar ‘n plat dak is, het heeltemal ingekonk. Die plafonne hang sommer sulke boeppense.”

Me. Stoltz het genoem dat sy dié dag 15 dooie duiwe, dooie mossies en ook babaduifies wat uit die nessies geslaan was, opgetel het.
Me. Stolz het op Maandag, 4 November gesê dat hulle onder die blare nog haelkorrels gekry het.
By ‘n bejaarde paartjie se huis het die afdak waaronder die motors gestaan het op die motors geval.
Dít het veroorsaak dat hulle in die huis vasgekeer was.
Omdat meeste inwoners bejaardes is, het hulle hulp met opruiming benodig.
“Ek is al oud en woon alleen. Ek kry nie die nat matte uit die motorhuis gesleep nie,” het me. Stoltz gesê.
Bykans 100mm reën het op die dorp uitgesak.
Lees ook: VIDEO: Groot skade in Eendracht na haelstorm



