Gemeenskap vat hande om Boervroue ruim by te staan
Enige skoen-, papier- of wynboks is gebruik om nie-bederfbare produkte in te pak soos badkameritems, jellie, speserye, hawermout, noedels, tuna, kondensmelk, pleisters, hoofpynpille, soppoeier en mooimaakgoed.
Die Standerton Advertiser het publisiteit verleen aan die ‘Boks vir ‘n Boervrou’-projek waar vroue in droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika gehelp is, wat die stoutste verwagtinge oortref het.
Enige skoen-, papier- of wynboks is gebruik om nie-bederfbare produkte in te pak soos badkameritems, jellie, speserye, hawermout, noedels, tuna, kondensmelk, pleisters, hoofpynpille, soppoeier en mooimaakgoed.
Laerskool Kalie de Haas het daarin geslaag, met die hulp van verskeie kerke, om 83 bokse toegedraai te kry.
Die skool het elke ouer en leerder vir hul donasies bedank.
Du Preez Family Optometrist, sakelui op Standerton en Hoërskool Standerton was ook betrokke.
Volgens ‘n inwoner, mnr. Basie Saayman, het dit by een van die aflaaipunte, naamlik die N.G. Kerk se Wesgemeente in Charl Cilliersstraat baie goed gegaan.

Quick Volt Electrical op die dorp het ‘n bussie beskikbaar gestel om 448 bokse, toiletpapier en babadoeke na Ermelo te vervoer.
“Die bussie het eers op Vrydag 25 Oktober op Morgenzon gestop en bydraes opgetel,” het me. Jeanette Saayman gesê.
“Morgenzon Landbou Akademie (MLA) het 298 bokse geskenk.” Die Vroue Landbou-unie (VLU) op Platrand en Vaalrivier-tak, sowel as in die omgewing, het ook meegedoen en altesaam 36 bokse geskenk.
“Die VLU en die Vroue Landbouver-eniging op Wellington is almal deel van die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie,” het me. Carien Schabort, voorsitter van die Tambuki-streek, gesê.
Volgens me. René Joubert van ons susterskoerant, die Hoëvelder op Ermelo, sou ‘n Interlink-vragmotor die vrag tussen 5 en 7 November na Wellington en Vredendal vervoer.
Me. Sandra Kritzinger van ‘n tuisnywerheid op Ermelo is inmiddels betrek en haar man is in beheer van die vragmotor.
“Dit was ‘n sukses siende ons, uit ‘n klein gemeenskap, byna ‘n duisend bokse kon volmaak,” het me. Schabort bygevoeg.
“Dit het byna ‘n uur op Standerton, sowel as op Morgenzon, geneem om alles in te pak en twee ure om af te pak.”




