Carien Schabort is Tambuki-streek se Vrou van die Jaar
Carien het reeds in Augustus 1996 by die VLU aangesluit toe die Platrand-vroue nog deel van die Hoëveldstreek was en het haar sedertdien bekwaam as beoordelaar in al die afdelings.
‘n Veelsydige boervrou in die omgewing is onlangs deur die Vroue Landbou-unie (VLU) tydens Tambukistreek se konferensie as Tambukivrou Vrou van die Jaar aangewys.
Me. Carien Schabort pendel weeksdae om 7.10vm sowat 24km van die plaas af om haar jongstes, Dewalt (10) en Altus (9), betyds by Laerskool Kalie de Haas te kry.
Die leë ure het in betrokkenheid by die VLU ontwikkel.
“Ek het vir baie lank net in ‘n bakkie gesit en wag dat die dag omgaan,” het Carien gesê.
Nou hou sy haarself besig met verjaardag- en troukoeke en sit soms by ‘n plaaslike koffiewinkel ‘n helpende hand by.
Sy het ook vir twee jaar rugby en krieket by Standerton Primary School afgerig en is nou doenig met Kalies se krieketafrigting.
Carien het reeds in Augustus 1996 by die VLU aangesluit toe die Platrand-vroue nog deel van die Hoëveldstreek was en het haar sedertdien bekwaam as beoordelaar in al die afdelings.
Sy het die eksamenkursusse in brei en hekel, handvlyt, masjiennaald- en borduurwerk, preservering en gebak en lekkers met gemak kafgedraf en veral die handvlytafdelings is ‘n persoonlike gunsteling.

Dié afdeling sluit onder meer mosaïekwerk, collages, houtsneewerk, matte weef en sketse in.
Carien se titel gaan grotendeels gepaard met gemeenskapsdiens waar vroue opgehef word en een van haar inisiatiewe was juis die suksesvolle ‘Boks vir ‘n Boervrou’-projek wat hulp aan drooggesteisterde gebiede verleen.
Sy lei ook vroue in kolletjiekuns (dot art) op, sowel as die bak en versier van driedimensionele koeke.
Om haar net ‘n boervrou te noem, is nie die volle waarheid want sy kon destyds spog met ‘n 30-sogeenheid op haar ouers se plaas.
Nadat sy aan Laerskool Ogies en die voormalige Hoëvelder Hoërskool, nou Morgenzon Landbou Akademie, haar studies voltooi het, het ‘n landbourigting gewink.
Dié koshuisbrak het in ‘n flêtjie in Du Toitstraat, Pretoria gebly en ‘n diploma in diereproduksie by die Pretoria Technikon verwerf.
Haar ontmoeting met Pieter in 1994 was ‘n toe-oogafspraak en hulle is ‘n jaar later op Kriel getroud.
“Hy het op die normale manier ouers gevra,” het sy geskerts.
Pieter het genadiglik op 30 Oktober kon plant, die voer is reg vir die beeste, maar soos meeste ander boere in die land, word naarstiglik op reën gewag.
Die Schaborts se oudste, Melanie, studeer by ‘n vliegskool by Wonderboom Lughawe.
Dit is onseker waar een spesifieke trofeeskenking ‘n plek in haar huis gekry het nadat sy vyf agtereenvolgende jare die meeste punte by ‘n konferensie behaal het.
Die nuwe trofee is verlede jaar en vanjaar ook aan haar toegeken.
Sy het bewys dat sy ‘n vrou is om mee rekening te hou siende die trofee vir ‘n lid met die meeste punte tydens ‘n VLU-kongres in Mpumalanga al ses keer in haar huis gepronk het.




