AfriForum se kenner sê Nasionale Gesondheidsversekering-droom is onuitvoerbaar
Die grootste kommer is ook dat die NGV vanuit die staat se koffers, en dus vanuit die belastingbetaler se sak, gefinansier moet word.

SECUNDA – Die droom dat almal in die land eerste wêreldse mediese behandeling gratis kan ontvang, klink wonderlik, maar dis onrealisties en onuitvoerbaar.
So meen AfriForum se kenner op gesondheid, dr Eugene Brink.
Hy het op Dinsdagaand, 22 Oktober, Secunda-inwoners oor die regering se beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) toegespreek, hoewel slegs ‘n handjievol mense die vergadering bygewoon het.
Volgens dr. Brink stuur die beplande NGV op ‘n fiasko af.
“Die regerende party het op hierdie plan besluit, sonder om dit deeglik na te vors.”
Hy het gesê dit sal ‘n reuse bedrag verg om die plan in werking te stel en selfs meer om dit te volhou.
Volgens dr. Brink sal die NGV die staat die volmag gee om te besluit of jy ‘n dokter mag sien en wanneer, en watter behandeling jy mag ontvang.
“Jy gaan nie toegelaat word om vir ‘n tweede opinie te vra nie. As jy moontlik ‘n privaat mediese fonds kan bekostig, gaan jy net in uiterste gevalle dit kan gebruik.”
Dr. Brink meen die NGV gaan veroorsaak dat kundiges soos dokters, aptekers en verpleegpersoneel eerder sal immigreer, want met hierdie stelsel sal die staat besluit waar, wanneer en in wat ‘n dokter mag praktiseer en hoeveel medici mag verdien.
Die grootste kommer is ook dat die NGV vanuit die staat se koffers, en dus vanuit die belastingbetaler se sak, gefinansier moet word.
“Hierdie plan is nog nêrens in die wêreld toegepas nie, want dit is nie moontlik nie,” het dr, Brink gesê.
Hy glo dit is ‘n kommunistiese taktiek van die ANC om kiesers te manupileer.




