Gizzelle Uys van Standerton streef daarna om internasionale kroon huis toe te bring
Sy het ook haar eerste rol in ’n Netflix-produksie losgeslaan waarvan die eerste episode al geskiet en die komedie-saadjie geplant is.
Gizzelle Uys van Standerton het onlangs weer bewys waarom skoonheidskoningin- en modeltitels in haar skoot val toe sy die Mej. Eco-toekenning in Hatfield, Pretoria ingepalm het.
Dié oud-leerder van Hoërskool Standerton se Mej. SHS-titel in 2015 en verskeie ander titels het bloot die weg gebaan vir ‘n beroep waar voorkoms, sowel as persoonlikheidseienskappe en intelligensie, ‘n deurslaggewende rol speel.
Sy het by die gala-aand in Pretoria waar die omgewing vooropgestel is, teen verskeie finaliste in haar afdeling meegeding met groot name in die bedryf wat verantwoordelik vir die beoordeling was.
Mej. Eco sal in Maart volgende jaar by ‘n internasionale kompetisie in Egipte op die verhoog wees.
Dié titel behels sekere verpligtinge waarvoor Gizzelle kans sien.
“My ambisie is om die internasionale kroon huis toe te bring.” het sy gesê.
Gizzelle is ‘n geregistreerde toergids in Gauteng en spog na haar Tukkies-studies met ‘n BA-graad in Erfenis en Kultuur.
Duidelik was pa Andrew en ma Marcha se aandrang op tersiêre onderrig geslaagd.

Nog is dit het einde niet.
Sy het ook haar eerste rol in ‘n Netflix-produksie losgeslaan waarvan die eerste episode al geskiet en die komedie-saadjie geplant is.
Haar modelwerk vanaf ‘n vroeë stadium, toe haar ma haar touwys gemaak het, en ander individue wat help om haar vir die groot, senutergende aande te slyp, het beslis ‘n invloed.
Gizzelle het nie gehuiwer om Marcha, me. Yolandi Rossouw en me. Cathy Heaton uit te sonder nie, wat agter die skerms druk besig is om haar op ‘n loopbaan met vele fasette voor te berei.
“My pa doen my bemarking,” het sy tong-in-die-kies gesê.
Met die toekoms wat wink daar in Hollywood, Los Angeles, is haar droom om ‘n danser en aktrise te wees.
Dit is nie die eerste keer dat die Standerton Advertiser ‘n onderhoud met haar voer nie en die enigste verskil is nou die bykomende prestasies.
Haar gesin speel ‘n sterk, ondersteunende rol, wat haar na aan die hart lê, en sy het melding van haar broer, Donovan se onderskraging gemaak.
“Ons is soos vinkel en koljander.”
Geen spesiale dieet word gevolg nie want Gizzelle hou van gesond eet en oefen.
“Ek het hierdie soort leefstyl gekies,” was haar opsomming van ‘n hoogs mededingende beroepskeuse.




