Local newsNews

Secunda-inwoner vra hulp om sy gedagtes oor te dra

Mnr. Westenraadt het mettertyd modelle uit skrootmetaal gemaak. Elk van hierdie modelle is vir hom simbolies van die lewe.

SECUNDA – Mnr. Coen Westenraadt (66) het ‘n idee vir ‘n motiveringspraatjie, maar het, volgens hom, nie die woorde om dit reg oor te dra nie.

Dié ding kom al jare en het hy aan sy idee geskaaf en gesweis en weer van voor af begin.

“Skrootmetaal se konsep het op my hart kom lê, want ons is maar almal skrootmetaal wat deur die lewe geskaaf en weggegooi is.

“Staalprodukte word mos in ‘n fabriek vervaardig, maar later word die meeste daarvan as skrootmetaal weggegooi.

“Soos skrootmetaal herwin kan word, wil ek ook vir mense wat deur moeilike tye gegaan het, vertel dat hulle herwin en weer vir die goeie gebruik kan word.”

Mnr. Westenraadt se streng pa het om van kleinsaf van harde werk en handewerk geleer.

Hy en sy ses ander sibbe het arm grootgeword en moes vindingryk met hande-arbeid wees.

Sy hande staan dus vir niks terug nie, selfs nie eens metaalsweisswerk hy eers as grootmens aangeleer het.

“So het ek die stukkies afval-metaal gesien en besef hier is ‘n storie – ‘n les vir die mensdom.”

Mnr. Westenraadt het mettertyd modelle uit skrootmetaal gemaak. Elk van hierdie modelle is vir hom simbolies van die lewe.

“Net soos hierdie stukke skrootmetaal, word jy deur dit wat met jou gebeur, gevorm – ten goede of ten slegte.”

Een model is in die vorm van skip met die internasionale noodsein SOS.

Mnr. Westenraadt het verduidelik dat hierdie model vir hom die onstuimigheid van die lewe uitbeeld.

“‘n Mens moet soms op die punt kan kom waar jy die wit vlag hys en om hulp roep. As geloof jou anker is, kan jou boodjie darem nie te ver wegdryf nie.”

Dié dieselwerktuigkundige weet wat dit beteken om deur onstuimige waters te beweeg.

“Ek het met vroeë pensioen gegaan, en vandag is ek baie spyt. Ek en my vrou, Marie, weet wat dit is om baie te sukkel, veral finansieel, en net geloof kan dinge verbeter,” het hy vertel.

Die egpaar woon al vir jare op Secunda en hulle het twee seuns, Ockie en Conraad. Hulle het ook twee kleinkinders van wie een, Jaden, by hulle aan huis woon.

Volgens mnr. Westenraadt beeld ‘n ander model die dinge uit wat ‘n mense se lewe en gemoed raak, soos geloof, moed, dryfkrag en wilskrag.

“Ek het maar myself leer sweis. Ek sien hierdie modelle in my kop en wil die simboliek wat dit vir my inhou, met ander deel. Ek weet net nie regtig hoe nie,” het mnr. Westenraadt verduidelik.

“Ek wil vir ander wys dat dit nie gaan oor hoe erg ‘n mens val nie, maar dit is hoe jy opstaan wat belangrik is.”

Mnr. Westenraadt glo as hy net iemand kan kry om sy storie te verwoord, dit werklik vir ander sal kan inspireer.

Hy het gevra dat enigeen wat vir hom raad kan gee, hom sal skakel by 082 655 5717.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button