Local newsNews

Seniorburgerklub en gemeenskap reik uit na demensie-pasiënte

Eileen nooi seniorburgers na klub se volgende byeenkoms. Dié klub vergader elke tweede Woensdag vanaf 10vm tot 12nm by die N.G. Kerk Secunda-Oos/Goedehoop-gemeente.

SECUNDA – Mnr. Pieter en me. Eileen Bezuidenhout wat lede is van die Dra Mekaar Seniorburgerklub op Secunda, het besluit om ‘n projek te loods om mense wat aan demensie ly, te help en te ondersteun.

Me. Bezuidenhout het vertel dit het begin nadat dié klub in Augustus die Silwerjare Ouetehuis op Bethal se afdeling vir pasiënte met demensie besoek het en meer van dié toestand geleer het.

Die verpleegpersoneel en bestuurder van Silwerjare het die seniorburgers gewys hoe ‘n vroetelvoorskoot, wat demensie-lyers as deel van hul terapie gebruik, lyk.

Me. Bezuidenhout het die personeel van Silwerjare gevra wat hulle as ‘n klub vir die pasiënte kan doen en die personeel het gesê dié pasiënte gebruik teddiebeertjies wat hulle kan vashou, want dit help vir hulle terapie.

’n Vroetelvoorskoot wat me. Cathy Engelbrecht vir dimensie-lyers van Silwerjare Ouetehuis op Bethal gemaak het.

Die Bezuidenhout-egpaar het toe ‘n projek geloods en begin om teddiebeertjies bymekaar te maak en om uit te vind wie kan vroetelvoorskote maak.

Me. Cathy Engelbrecht het vyf vroetelvoorskote gemaak en die klub het baie teddiebeertjies, asook legkaarte gekry wat hulle by die ouetehuis gaan afgee.

“Die gemeenskap het goed gereageer nadat ek op Facebook en ander plekke gevra het vir teddiebeertjies en legkaarte,” het me. Bezuidenhout gesê.

Sy het die gemeenskap en almal wat iets geskenk of gehelp het, vir hul samewerking en ondersteuning, bedank.

Demensie-pasiënte kan net legkaarte met groot stukke gebruik en volgens me. Bezuidenhout is legkaarte wat nege stukke bevat, ideaal vir hulle. Van die teddiebeertjies wat te groot is of legkaarte wat te veel stukkie het, gaan die klub aan kinderhuise op Volksrust en Balfour skenk.

Me. Cathy Engelbrecht met die vroetelvoorskote wat sy vir seniorburgers wat aan dimensie ly, gemaak het.

Die vroetelvoorskote help die demensie-lyers om verskillende teksture te voel en dit bevat ‘n ritsluiter en ander dinge wat die pasiënte moet doen terwyl hulle sit en terwyl die voorskote om hul lywe vasgemaak is.

“Dit was baie leersaam op ons ouderdom om van die personeel by Silwerjare te hoor wat help vir demensie-pasiënte en wat hulle nodig het,” het me. Bezuidenhout gesê.

“Baie mense is onkundig oor demensie en weet nie hoe om hul ouers wat moontlik demensie het, te hanteer of te versorg nie.”

Me. Bezuidenhout het seniorburgers wat 60 jaar en ouer is genooi om by Dra Mekaar Seniorburgerklub aan te sluit en hulle volgende byeenkoms by te woon.

Me. Eileen en mnr. Pieter Bezuidenhout wat ’n projek geloods het om dimensie-lyers op Bethal te ondersteun.

Dié klub vergader elke tweede Woensdag vanaf 10vm tot 12nm by die N.G. Kerk Secunda-Oos/Goedehoop-gemeente.

“Ons doen altyd iets lekkers by die klub en ons kan vervoer reël as daar seniorburgers is wat nie vervoer het nie.”

Die seniorburgers kry ook iets te ete by elke klubvergadering.

Me. Bezuidenhout beplan om volgende jaar ‘n projek by die klub te doen waar seniorburgers sakke vanuit groot koekmeel- en suikersakke gaan maak.

Sy het die gemeenskap gevra om reeds nou al hul leë koekmeel- en suikersakke te skenk aan die klub.

Skakel haar by 082 467 5307.

Die teddiebeertjies en blokkies wat Dra Mekaar Seniorburgerklub vir demensie-lyers by Silwerjare Ouetehuis op Bethal ingesamel het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button