Local newsNews

Degenaars van Standerton reeds meer as 50 jaar besig met eiendomsake

Eiendomsbloed loop bykans in elke Degenaar se are, van Helené wat haar man bystaan tot Jannie wat ook toepaslik bekwaam is.

Die Degenaars van Standerton is huishoudelike name in die eiendomsbedryf en dis geen wonder nie, want Henchristo Beleggings (Edms) Bpk is vroeg 1967 begin nadat oom Jan Degenaar en mnr. Hennie van der Merwe die onderneming gevestig het.

Die Standerton Advertiser was tydens die onderhoud verras om die aantal berigte, noukeurig in plakboeke gebêre, te sien waar die koerant oor hulle berig het.

Die familie-onderneming se ontvangsgebied word deur me. Sarita Bekker beman, tannie Hester is ook daar en oom Jan daag klokslag elke oggend op om hom van die stand van sake te vergewis.

Die senior Degenaars het op 6 November hul 65ste huweliksherdenking gevier.

“Die bedrywighede op hul plaas Rooikopjes was maar ‘n bysaak, hoewel Lourie ses jaar gelede die boerdery oorgeneem het en nou voltyds boer,” het mnr. Gerhard Degenaar onthou.

“Ons by Henchristo is wel Boere in murg en been.”

Eiendomsbloed loop bykans in elke Degenaar se are, van Helené wat haar man bystaan tot Jannie wat ook toepaslik bekwaam is.

Gerhard het die bedryf as uiteenlopend beskryf.

“‘n Mens werk met mense se gevoelens, waar hulle ‘n veilige hawe gaan hê.”

Henchristo het ook vir 16 jaar as bestuursagente by die Pick n Pay-sentrum opgetree.

Mnr. Gerhard Degenaar van Henchristo Beleggings (Edms) Bpk se werk is vir hom ’n leefwyse.

Gerhard het die bedryf as ‘n leefwyse opgesom juis omdat hy dag-en-nag beskikbaar is om in mense se behoeftes te voorsien.

“Die lekkerste is wanneer ‘n kliënt na jou terugkom om weer ‘n transaksie te hanteer.

“Mense vertrou jou omdat jy voor hulle grootgeword en oudgeword het.”

Die Degenaars het ook noue bande met die vorige redakteurs van die koerant gehad en het selfs in mnr. Pierre Schnetler se tyd ‘n boom agter die gebou kom afsaag.

Met die veranderde eiendomsbedryf en verbandtussengangers, moes ook tred gehou word.

“In die ou dae het ‘n koper opgedaag nadat hy sy bankbestuurder gaan sien het en gesê wat hy wou hê.”

Helené het ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi oor watter hoedanighede ‘n eiendomsagent moet hê.

Gerhard het die feit dat jy mense moet kan lees en op jou voete kan dink genoem, terwyl Helené onafhanklikheid en intelligensie hoog aangeskryf het.

“Standerton word bedien deur die beste span eiendomsagente in die land,” is tussendeur die onderhoud laat blyk.

Oom Jan en tannie Hester se nakomelinge staan op nege kleinkinders en 15 agterkleinkinders.

“Ek wil nie ‘n ander werk hê nie, dit is my lewe,” het Gerhard mee afgesluit.

Die Degenaars van Henchristo Belegggings (Edms) Bpk is (agter) Helené, Gerhard en Sarita Bekker. Voor is tannie Hester en oom Jan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button