Plaaslike tandarts poog om behoeftes van pasiënt in totaliteit aan te spreek
Dr. Ferreira behoort tot die holistiese skool van denke waar ’n pasiënt se behoeftes in totaliteit aangespreek word, wat in alledaagse terme dui op ’n prosedure in die tandartsstoel wat gedoen word met inagneming van die pasiënt se volle prentjie.
Dr. Jacques Ferreira, plaaslike tandarts, se onlangse akademiese prestasie het ‘n M-graad in lasertegnologie opgelewer met nie minder nie as ‘n cum-slaagsyfer.
Dr. Ferreira het in Aachen, naby die grens van Duitsland met België en Nederland, dié eerbetoon ontvang wat ‘n paar senutergende oomblik tydens die oorhandiging gekos het, voordat sy naam uitgelees is.
Dit was die vyfde keer in 15 jaar dat iemand in al die modules die gesogte ‘excellence’-slaagsyfer behaal het.
Dr. Ferreira het in 2001 aan die Universiteit van Pretoria graadgevang en vanuit ‘n woonstelletjie in Sunnyside, Pretoria die nodige ure agter die lessenaar ingesit.
Lasertegnologie, soos aangewend in tandartspraktyke, spreek tot hom op sowel sielkundige, as professionele vlak.
“Ek glo dat mense die beste wat jy kan doen, moet doen,” het dr. Ferreira gesê.
Dr. Ferreira behoort tot die holistiese skool van denke waar ‘n pasiënt se behoeftes in totaliteit aangespreek word, wat in alledaagse terme dui op ‘n prosedure in die tandartsstoel wat gedoen word met inagneming van die pasiënt se volle prentjie.
“My oë het tydens my studies oopgegaan,” het hy bygevoeg.
Tandartse is deeglik bewus van die vrees wat ‘n afspraak inboesem, maar dat jou vrees sodanig geprojekteer word, kan die praktisyn beïnvloed.
“Hoe gemakliker die pasiënt is, hoe gemakliker is die operateur.”
Lasertegnologie gaan juis om met sulke faktore omdat dit sagter op die weefsel is, minder indringend en sonder verdowing plaasvind.
Dit kan aangewend word by weefselchirurgie, klein gaatjies en ook vir die genesing van wonde en bowenal gee dit meer opsies wat baie keer verwysings na spesialiste sou wees.
Dié tandarts het 14 jaar gelede op Standerton aangekom en is nou sodanig ingeburger dat hy voorsitter van die beheerraad by Laerskool Standerton is.
Hy en Renske se spruite, Hugo en Aneske, is nou 11 en 13 jaar oud.
Ook glo hy aan oefening en is ‘n gereelde gesig by die parkrun by die Standerton Rivierpark, laat die speke sing by fietsry-avonture en sê nie nee vir ‘n bietjie vlieghengel nie.
Sy sterk geloof word ook met sy professie verbind en hy het al uitreike in Mosambiek gedoen en sy ma en een broer is totaal toegewyd in hul Christenskap, en werksaam op die sendingveld.
“Ek was nie die slimste op skool nie, maar ‘n biddende ma kry jou selfs deur fisika.”
Mnre. Bert Bakker en Attie van der Westhuizen van Standerton is uitgesonder wat groot bydraes tot die verwesenliking van sy ideale gemaak het.
“Een van die kosbaarste dinge van Standerton is dat mense hul nekke uitsteek om te help.”
Op die vraag van watter verse in die Bybel hy sy eie gemaak het, is ondubbelsinnig verklaar dat Job 5:19 se benoudhede waar die Here hom deurhelp en natuurlik ook ‘Ek is in staat tot alles deur Christus wat my krag gee’ rigtingwysers in sy lewe was, en steeds is.



