
EVANDER – Die belegginsbedrogsaak teen mnr. Jaco Jordaan is tot Januarie uitgestel sodat sy nuwe advokaat al die dokumente in die saak by die vorige regsverteenwoordiger kan kry.
Dié Heidelbergse-sakeman wat van meer as R100-miljoen se beleggingsbedrog verdink word, het op Woensdag, 6 November, vir die tweede keer in die Evander-streekhof verskyn.
Mnr. Jordaan word daarvan aangekla dat hy meer as 100 mense vanuit Kriel en Secunda uit hul spaargeld bedrieg het in ‘n multi-miljoen rand beleggingskema.
Die polisie glo moontlik dat dit ‘n grootskaalse ponzi-stelsel mag wees.
Die meeste mense vanuit Kriel is bejaarde pensioentrekkers of mense wat ongeskik vir werk verklaar is.
Hulle het hul hele pensioen by mnr. Jordaan se onderneming, Stocktraders SA, belê.
Die polisie se handelsmisdaadeenheid ondersoek die saak.
Mnr. Jordaan is uit op borgtog van R50 000. Hy het ook sake in Sandton teen hom.
Hierdie sake sal na wat verwag word by dié van Secunda en Kriel gevoeg word.
Mnr. Jordaan moet weer op 23 Januarie in die streekhof op Evander verskyn.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/109679/hofgalery-stampvol-mense-wat-jordaan-agter-tralies-wil-sien-oor-beweerde-beleggingsbedrog/



