Maralize Watermeyer is dankbaar vir twee wonderwerkies
‘Moenie moed opgee na twee of drie miskrame nie’
SECUNDA – Me. Maralize Watermeyer se begeerte om kinders te hê, was groter as die hartseer en teleurstelling wat met sewe miskrame gepaard gegaan het.
Sy en haar man, mnr. Ernst Watermeyer, het ná dié sewe miskrame steeds nie moed opgegee nie en aanhou probeer om kinders te kry.
Me. Watermeyer het in 2010 vir die eerste keer swanger geraak nadat sy in 2009 met servikale kanker gediagnoseer is en kankerselletjies op haar baarmoeder verwyder is.
Die dokter het met me. Watermeyer se eerste sonar-besoek op agt weke van swangerskap agtergekom daar is geen hartklop nie en hy moes ‘n skraap doen.
Me. Watermeyer het in 2011 weer swanger geraak en op vyf weke nog ‘n miskraam gehad.
Sy was op haar troudag, in 2012, weer swanger en alles het goed gegaan totdat sy in haar 24ste week van swangerskap kraampyne begin kry het.
“Dit was nóg ‘n miskraam,” het me. Watermeyer gesê.
“Dit was ‘n seuntjie en hy was ten volle ontwikkel. Hy was volmaak.”
Sy longe was egter nie heeltemal ontwikkel nie. Dié seuntjie het vir slegs ‘n paar sekondes ná geboorte geleef.
“Ek het die dokter gesmeek om my baba te red, maar hy het net gesê hy doen nie miskrame nie. Ek het al gewonder, as ek by ‘n ander dokter was of hulle my seuntjie sou kon red deur suurstof of iets te gee.”
Me. Watermeyer en haar man het mekaar ondersteun tydens dié hartseer tyd in hul lewens en haar familie het haar ook moed ingepraat.
“Die Here dra ‘n mens deur so iets,” het sy gesê.
Sy was in 2013 weer swanger, maar het weer op vyf weke ‘n miskraam gehad.
Me. Watermeyer is in 2014 na ‘n ander dokter toe sy weer swanger geraak het, maar het op agt weke nóg ‘n miskraam gehad. Hierna het nóg ‘n miskraam in 2015 gevolg.
Die Watermeyers moes in 2016 weer eens die hartseer en verlies verwerk toe hulle ‘n dogtertjie op 20 weke verloor het.
Me. Watermeyer het te vroeg in kraam gegaan en normaal geboorte geskenk, maar die kleinding is ook slegs ‘n paar sekondes na geboorte dood.
“Die dogterjie was perfek en daar was niks fout met haar nie.”
Me. Watermeyer het in 2017 ‘n spesialis in Pretoria gaan sien om haar te help om swanger te raak omdat die egpaar so graag ‘n kind wou hê.
Dié spesialis het toetse gedoen en niks fout gekry met me. Watermeyer of redes hoekom sy voordurend haar kinders verloor nie.
Hy het haar op spesiale medikasie gesit en me. Watermeyer het in 2017 weer swanger geraak.
Haar dogtertjie, Mika, nou al twee jaar oud, is op 33 weke as ‘n prematuur-baba gebore.
Mika moes 20 dae in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal deurbring voordat sy kon huis toe gaan.
“Sy was op buisvoeding, maar die Here het ons met ‘n gesonde baba geseën.”
Mika het op 13 September vanjaar ‘n boetie, Wian, bygekry.
Me. Watermeyer se swangerskap met Wian was ook spanningsvol en hy is op 34 weke gebore.
Die dokter het agtergekom me. Watermeyer se serviks is net 1cm lank en dit was ook glo die rede hoekom sy tydens so baie swangerskappe te vroeg in kraam gegaan en die baba’s verloor het.
Meer as 400 mense het vir me. Watermeyer en Wian gebid.
Wian is gebore en was gesond en perfek.
Hy moes, nes sy sussie, ook buisvoeding kry en was in die hoë-sorgeenheid van die hospitaal vir drie weke voordat hy kon huis toe gaan.
“Ek wil vroue aanmoedig om nie moed op te gee ná twee of drie miskrame nie.
“As ek moed opgegee het, het ek nooit my kinders gehad nie.”
Me. Watermeyer het vroeër jare as nasorgjuffrou gewerk.
“Ons is geseënd met ons kinders en dankbaar teenoor die Here vir hulle,” het sy gesê.



