Local newsNews

Boere maak ’n plan om opbrengste te verseker

Hoewel dié boer begin plant het, is deurdringende reën nodig vir ondergrondse vog om weiding aan die diere te voorsien.

Die voortslepende, landwye droogte is met welkome reën in die Standerton-omgewing afgewissel, maar nie alle boere se toekoms lyk rooskleurig nie.

Mnr. Willie Steenkamp wat ‘n plaas naby die Topfontein-pad het, is van mening dat Standerton verlede jaar ‘n slegte omgewing was, vergeleke met byvoorbeeld Ogies.

“Ons het verlede jaar swaargetrek,” het hy gesê.

Hoewel dié boer begin plant het, is deurdringende reën nodig vir ondergrondse vog om weiding aan die diere te voorsien.

‘n Boer maak egter ‘n plan en die plantseisoen is ietwat aangeskuif.

‘n Nasionale dagblad het mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, aangehaal wat gesê het dat volgende jaar bepalend gaan wees en dat die hele voedselketting in gevaar is.

Die rol wat klimaatsverandering speel, beïnvloed ook die landbousektor.

Mnr. Carus van Rensburg wat naby die Heidelberg-pad boer, is redelik positief omdat die reën verligting kon bring.

Sy buurman, mnr. PJ Venter, het ook al begin plant en daar is genoeg voer vir die beeste. “Dit lyk asof die veld al begin herstel het,” het hy gesê.

Voedselsekerheid moet vir die hele land bewerkstellig word en mnr. Bennie van Zyl, algemene bestuurder by TLU SA, het op Donderdag 14 November sy kommer uitgespreek oor die situasie waarin boere verkeer.

“Dit is van kritieke belang om boere aan die werk te hou,” het hy gesê.

Mnr. Van Zyl het bygevoeg dat die landbousektor onder geweldige druk is en dat die dilemma is dat die regering nie rampe aanspreek nie.

Volgens hom kry hulle geen ekonomiese inspuiting nie en moes baie reeds mense aflê, wat gaan lei tot verstedeliking en toename in misdaad.

Wat die plantseisoen betref, het hy genoem dat beter opbrengste verwag kan word as daar voor 15 November geplant is.

‘n Betroubare bron het aangedui dat hy kennis dra van 12 boere in die Standerton-omgewing wie se finansiële goedkeurings vir die seisoen nog nie afgehandel is nie.

‘n Boer wat verkies om anoniem te bly, het die grootste uitdagings van die hedendaagse boer uitgestippel.

“Ons het loonstygings, kragverhogings, insetkoste wat styg en onderdele se pryse wat styg,” het hy gesê.

“Die mielieprys voorts is aan die wisselkoers gekoppel en die staat subsidieer ons nie. Dié prys is byna met 2006 vergelykbaar. Boere verarm jaarliks.”

Boerdery-aktiwiteite in die Standerton-omgewing na die reën wat geval het. (Foto: Verskaf)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button