Inwoners wat vroegoggend begroet word met ‘n dier wat vergiftig is, staan die kans dat misdadigers die geleentheid sal benut om toe te slaan.
Mnr. Andrew Kruis van Von Backströmstraat op Standerton het die Standerton Advertiser douvoordag op Sondag 24 November in kennis gestel van wat in sy straat gebeur het.
Nie slegs is sy pitbull vergiftig nie, maar die bure oorkant se drie honde en kat is ook uit die weg geruim.
‘n Isuzu-bakkie is die daaropvolgende dag by die bure gebuit.

Meyerville se Stefinastraat is ook nie in die nanag van 21 November ontsien nie en dieselfde modus operandi is gevolg.
Kasselman Veiligheidsdienste (KSS) is in kennis gestel en die wit Isuzu-bakkie is daarna naby die spoorlyn gevind.
Mnr. Jannie Kasselman se beamptes is nou betrokke by dié voorvalle en op die vraag waarom juis so ‘n model gesteel word, lê die antwoord bloot in vraag en aanbod na onderdele.
“Diefstal van voertuie gaan deur fases,” het mnr. Kasselman laat blyk.
LEES OOK: Dogs poisoned in Meyerville

Mnr. Lukas Swart van ‘n intelligensieondersteuningsmaatskappy in Suid-Afrika het op Vrydag 29 November meer lig op die saak gewerp.
Volgens mnr. Swart, is Isuzu die grootste dieselenjinvervaardiger wêreldwyd.
Dit kan moontlik die persepsie by misdadigers laat ontstaan dat die enjin die sterkste is.
Dié voormalige weermaglid se werk behels die voorkoming van geweldmisdaad in Suid-Afrika.
“As ‘n hond vergiftig word, is die kanse op ‘n huisroof binne ses weke goed.
“As al die honde in ‘n straat vergiftig word, kan ‘n mens binne twee maande voertuigdiefstal verwag.”

Volgens mnr. Kasselman, het die vlaag van hondevergiftiging vanaf Bethal en Secunda na Standerton oorgewaai en veral Aldicarb, algemeen bekend as ‘Two Step’, is die sondebok.
Statistieke skets ‘n donker prentjie en volgens inligting word ‘n beraamde 800 honde weekliks met dié verbode plaagdoder vergiftig.
Me. Chanelle Oosthuizen van die Highveld Ridge SPCA het aangedui dat hulle ‘rescue packs’ het vir eienaars van diere.
Ongelukkig help dit net om vir tyd te speel voordat die vergiftigde dier behandeling by ‘n veearts kan kry.
Benewens houtskoolpoeier, sout en ‘n inspuiting, bevat die noodpakkie ook handskoene.

Die DBV op Standerton word nasionaal bestuur en het tans nie sulke pakkies beskikbaar nie.
Me. Riana Labuschagne het gesê dat hulle gaan probeer om voorsiening vir sulke gevalle te maak.
In gevalle van nood kan 082 869 2350 geskakel word.
Volgens dr. Marlize Engelbrecht van Standerton Dierehospitaal, is nege gevalle die afgelope drie maande by hulle aangemeld.

“Hondevergiftiging kom beslis meer hierdie tyd van die jaar voor,” het dr. Engelbrecht gesê.
Langnaweke en vakansietye styg die voorkoms uiteraard.
Die simptome van ‘n vergiftigde dier sluit in braking, spiersametrekking, vergrote pupille en diarree.
Sy het eienaars aangeraai om sulke diere so gou moontlik by ‘n veearts te kry waar ‘n teenmiddel ingespuit sal word.




