Gemeenskap vra waarom polisie so laat by ongelukstoneel opdaag
Kapt. Nhlabathi het op Maandag 2 Desember gesê dat een van hul voertuie in is vir herstelwerk, hoewel daar met die eenhede van die provinsiale kantoor saamgewerk word. “Dit was maandeinde en bykans onmoontlik om betyds by elke toneel op te daag,” het hy bygevoeg.
Skreeuende bande en ‘n harde plofgeluid die laatmiddag van Saterdag 30 November op die Leandra-pad by Hompie Kedompie Kleuterskool se afdraai, het vrae laat ontstaan waarom die Standerton Polisie so laat opgedaag het.
Die gesellige verkeer van gaste by die militêre veterane se afskeidsfunksie by Vaalrivierskool is ietwat onderbreek.
Volgens die kommunikasiebeampte van die polisie, kapt. Fanie Nhlabathi, het’n rooi Mazda teen ‘n BMW wat afkomstig van Early Bird se kant was, gebots.
Die bestuurder van die Mazda wou regs draai. Omstanders het na die toneel gestroom en sommiges het gebly terwyl op die polisie gewag is.
Kapt. Nhlabathi het op Maandag 2 Desember gesê dat een van hul voertuie in is vir herstelwerk, hoewel daar met die eenhede van die provinsiale kantoor saamgewerk word.
“Dit was maandeinde en bykans onmoontlik om betyds by elke toneel op te daag,” het hy bygevoeg.
Geen bloedtoetse is vir alkoholinname gedoen nie en niemand is in hegtenis geneem nie.
‘n Ongeluksverslag is oopgemaak.
Jeria Ambulansdienste was op die toneel en volgens me. Shandré van den Heever, het die bestuurder van die Mazda hoofbeserings opgedoen en het die staatsambulans hom na die Standerton Hospitaal vervoer.
Die passasier het van nek-, bors- en laerugpyn gekla en Jeria Ambulansdienste het hom na die hospitaal geneem.
‘n Omstander het die Standerton Advertiser laat weet dat die familie van die mense in die rooi motor geskakel en gevra is om hospitaal toe te gaan.
‘n Polisiebeampte, op pad na ‘n ander voorval, was na bewering op die toneel, sowel as All Star Towing Services.
Die insittendes in die BMW wou nie enige behandeling ontvang nie.





