Kosmos Aftree-oord en Feral Watch in ‘katgeveg’
"Die katbevolking het ontplof en ons het foto's van katte wat op stoepe en tuinmeubels sit, daar urineer, ontlas en kattemaai."
Kosmos Aftree-oord op Standerton en Feral Watch kan nie tot ‘n vergelyk kom oor die hantering van wilde katte nie.
Die bestuurder van die tehuis, mnr. Jack la Grange, het sy standpunt onomwonde in ‘n omsendbrief, gedateer 26 November, aan alle inwoners gestel.
Mnr. La Grange het verwys na bejaardes se kontrakte (skedule 29) wat aandui dat geen troeteldiere op die perseel aangehou mag word nie en het aangevoer dat rondloper- en straatkatte wat deur inwoners aangeneem of gevoer word, as troeteldiere geklassifiseer word.
“Die katbevolking het ontplof en ons het foto’s van katte wat op stoepe en tuinmeubels sit, daar urineer, ontlas en kattemaai.”
Klagtes van inwoners is ook ontvang.
Die bestuurder het ook gesê dat die kosgeeproses, wat deur Feral Watch as oplossing voorgehou is om die katte se kos geleidelik tot buite die perseel te skuif, nooit deurgevoer is nie en dus misluk het.
“Dit is ook nie regverdig dat inwoners vir wie die katte ‘n probleem en bedreiging is, vir oortreding van die behuisingsreëls moet instaan nie.”
Ook is aangevoer dat Feral Watch male sonder tal in die afdwinging van huisreëls ingemeng het.
Die ouetehuis het die omsendbrief afgesluit met die waarskuwing dat inwoners wat katte kosgee, proporsioneel verantwoordelik gehou gaan word om al die diere van die perseel te verwyder, sowel as vir die skade wat deur diere berokken is.
Me. Riana Labuschage wat Feral Watch op die dorp op die been gebring het, het daarna op Facebook haar misnoeë met die situasie uitgespreek en aangevoer dat slange, muise en rotte ‘n plaag sal veroorsaak.
Feral Watch Secunda het ‘n tak op Standerton geopen vanaf begin Augustus.
“Om ‘n dier te voer, gee betekenis aan sommige mense se lewens,” het me. Labuschagne gesê.
Die Standerton Advertiser het met met albei partye gepraat onderskeidelik op Maandag 9 Desember en Dinsdag 10 Desember.
‘n Ooreenkoms tussen die partye om die katte te vang met die doelwit om Feral Watch se missie van ‘trap, neuter and return’ te bereik, is gekelder.
Na ‘n gewraakte opmerking van mnr. La Grange dat hy nou al lus voel om die katte te skiet, het me. Labuschagne met die DBV in aanraking gekom, wat die saak opgevolg het.
Mnr. La Grange het gesê dat hy nie ‘n vuurwapen het nie, bewus is dat die gebruik van ‘n wapen in ‘n dorpsgebied onwettig is en ook bewus is van die effek wat dit op die inwoners sal hê.
Hy het ook die rol van katte om knaagdiere onder beheer te hou, in twyfel getrek met verwysing van voorvalle op St. Helena en Marion-eiland.
“Katte se rol in rottebeheer is gering,” het hy gesê.
“Hulle maak op ander mense se higiëne inbreuk.”
‘n Navorsingstuk (Bothalia – African Biodiversity & Conservation) van sowel die Universiteit van Pretoria en Monash Universiteit in Australië het genoem dat hoewel die katdieet op Marion-eiland muise ingesluit het, hulle hoofsaaklik van seevoëls geleef het, wat laasgenoemde bevolking beduidend beïnvloed het.
Me. Labuschagne het die rol van Feral Watch toegelig en gesê dit is ‘n nie-winsgewende organisasie wat beslis nie aan wilde katte huisvesting verskaf nie.
“Ons wil gesonde kolonies vestig waar die bevolking nie aanteel nie,” het sy gesê.
Volgens haar het hulle reeds 22 katte by die tehuis verwyder, insluitend ‘n mak dier en die onkoste het R20 000 beloop.
“Dit is ‘n kriminele oortreding om op te hou om ‘n dier te voer wat kos gegee is.”
Mnr. La Grange het gesê dit is onwaar.
Feral Watch is betrokke by die toedien van medikasie, sterilisasie, gee van kos en ontwurming wanneer geld beskikbaar is.
“As die ouetehuis bereid is om te ‘trap, neuter and return’ sal ons weer betrokke raak,” het me. Labuschagne bygevoeg.
“Ek sal die stem van die diere wees.”
‘n Inwoner van die aftree-oord, me. Rita Wessels, het gesê sy hou van katte, maar hulle kan nie daar aangehou word nie.
“Die katte kom vanuit die veld vir kos.
“Te veel is nou te veel.”



