Rek-onderwyser van Bethal wen skryfkompetisie en publiseer eerste boek
Nadine sal graag nog boeke wil skryf
BETHAL – Me. Nadine van Rooyen het onlangs haar eerste kinderboek, Leonard se Groot Gril, klaar geskryf.
Sy het met dié boek ook die radiostasie, Pretoria FM se Ken jou Storie-kompetisie gewen.
Sy was verheug dat haar stories oplaas gepubliseer is.
“Ek het al voorheen my stories aan uitgewers gestuur, maar dit was afgekeur .
“Toe ek die boek in my hande vasgehou het, is ‘n groot droom van my bewaarheid,” het me. Van Rooyen vertel.
Sy het net ‘n paar dae voor die sluitingsdatum van die kompetisie haar storie ingestuur. Haar man luister graag na Pretoria FM en het me. Van Rooyen aangemoedig om in te skryf.
Die bekendstelling van haar boek was in April verlede jaar.

Me. Van Rooyen is op Bethal gebore en het haar matriekjaar by Hoërskool Hoogenhout voltooi.
Sy het ná haar matriekjaar by Tukkies gaan studeer. Sy het eers vir 10 jaar in die korporatiewe wêreld gewerk en in die stad gewoon voordat sy en haar man in 2013 besluit het om ‘n leefstylverandering te maak en na Bethal terug te trek.
“Die platteland is goed vir ons,” het me. Van Rooyen gesê.
Sy het self twee woelwaters in die huis en het dus besluit om ‘n kinderboek te skryf.
“Dit is ‘n groot voorreg om die lewe deur my kinders se oë te herontdek.
“Ek het met baie stories grootgeword en wil graag my kinders aan verskillende stories blootstel.
“Stories is die beste manier van leer en ontspan.”
Alledaagse gebeure het me. Van Rooyen geïnspireer om Leonard se Groot Gril te skryf.
“Dit is gewoonlik ‘n komiese situasie wat homself afspeel in my huis wat die inspirasie agter my stories is.”
Me. Van Rooyen het al gewonder of diere ook kan gril soos sommige mense wat vir slange gril, ander vir vuil naels en ander as iemand hard in jou oor kou.
Dit is met dié gewonder wat sy aan die titel van haar eerste kinderboek gekom het.
Me. Van Rooyen was nog altyd lief vir skryf en doen dit om sin te maak van dinge, te ontspan en om te leer.
Sy het al verskeie kortverhale, gedigte, liedjies en stories geskryf wat sy diep onder in haar laai bêre.
Die egpaar se twee kinders is me. Van Rooyen se grootste ondersteuners en hulle geniet ook die stories in haar boek.
Sy sal graag nog boeke wil publiseer en sy skryf intussen stories vir haar eie twee kinders om hulle te vermaak.
Me. Van Rooyen werk voltyds as ‘n rekeningkunde-onderwyser by Hoërskool Hoogenhout waar sy ook self skoolgegaan het.
“My werk is om hoërskoolkinders te oortuig dat rekeningkunde prêt is,” het sy gesê oor haar loopbaan as onderwyser.
In haar vrye tyd bak en brou sy graag of sy lees.
Die gevoel dat dit wat sy doen ‘n verskil maak in ander se lewens, motiveer me. Van Rooyen om daarmee te volhard.
“Ek glo erkenning is ook ‘n kragtige motiveerder vir enige iemand.”




