Local newsNews

Helen Ellis van Standerton spoor biodiversiteit na

Helen het die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereninging (SAJWV) se topvroueskuttoekenning verlede jaar, sowel as in 2016 ingepalm en het in 2017 en 2018 die tweede plek verwerf.

Onkonvensioneel, saggies rebels, met ‘n ontwikkelde bewaringsbewussyn, ‘n voorslagskut en op die koop toe en moontlik in staat om die hele prentjie van die motorhandel in haar kop te visualiseer, is niemand anders nie as me. Helen Ellis.

Dié Standertonner het ‘n genommerde uilboks, een van 20, by haar werksplek by Ritchie Ford aan die Standerton Advertiser gewys en selfs die Standerton Buiteklub is nie oor die hoof gesien nie, met boksnommer 19.

Haar dogter Kathleen en man, Morné, woon op Lambertsbaai, terwyl die seuns Michael en sy vrou Chantelle, en Richard saam nesgeskop het en ‘n babaseuntjie het ook sy opwagting gemaak.

“Ek het nooit gedink ek sou ‘n ouma wees nie,” het Helen vertel.

Die familie neem graag verlief van die wildekatkolonie van so 15 of meer wat sy tuis versorg om nie te praat van die perde, wat by die Standerton Skouterrein op stal staan, wat die nodige gras en kos kry nie.

Me. Helen Ellis by haar werksplek waar ‘n uilboks opgestel is.

Helen het op Randfontein gematrikuleer en dadelik skouer aan die wiel gesit en by ‘n myn op Randfontein haar rekenkundige vaardighede begin slyp en het eers in 1984 op Standerton, die wêreld van die motorhandel betree.

Haar skoonouers se onderneming het vir 15 jaar van haar dienste gebruik gemaak, voordat sy by Margri Motors vir etlike jare werksaam was.

Maar met watter motor ry sy?

‘n Nutsvoertuig en voorheen was dit bakkies om die graslaaiery en avontuurritte moontlik te maak.

Selfs spoorsny is nie bo haar vuurmaakplek nie wat te wyte is aan blootstelling vir drie jaar by ‘n wildreservaat op Sabie-Sabie met die kennis van fauna en flora wat opgeskerp kon word.

“Ek hou daarvan om my kennis te verbreed want die wêreld lê braak voor jou.”

Haar artistieke streep is aanvanklik bevredig met fotografie as ‘n wyse om daardie ruimte te ontgin en deesdae is sy gemaklik met sketse en skilder.

Figure soos die Engelse romantiese skilder John Constable dra haar goedkeuring weg en abstrakte werk word, veral met betrekking tot die gebruik van kleur, na waarde geskat.

“Ek is oop vir ontwikkeling want daar is geen absolutes nie, behalwe skiet,” aldus Helen.

Helen het die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereninging (SAJWV) se topvroueskuttoekenning verlede jaar, sowel as in 2016 ingepalm en het in 2017 en 2018 die tweede plek verwerf.

‘n Uitdaging is ook nie iets om van weg te skram nie en sy het ruiterlik erken dat hare met haar geliefde sport te make het.

“Om alleen my geweer te herlaai, was my grootste uitdaging.”

Sy dien nou haar derde drie-jaar-termyn as bewaringsbeampte uit wat haar na aan die hart lê.

“Om mense bewus van bewaringsaangeleenthede te maak, is die heel belangrikste.”

Die onderhoud is afgesluit by die een uilboks by die motorhandelaar en nodeloos om te sê het die onverwagse reënbui op pad na haar kantoor haar nie afgeskrik nie.

“Wie is nou bang vir ‘n bietjie reën?”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button