Leana Boshoff maak gereed vir modelle se glansgeleentheid
“Ek het geleer dat kanker nie noodwendig vir ons ’n doodsvonnis moet wees nie, maar eerder ’n genadepad wat jy saam met God stap.”
Die spontane en veelsydige me. Leana Boshoff van Standerton, sal die klaskamer op 27 Februarie verruil vir die loopplank tydens ‘Top Model South Africa’ se glansgeleentheid by Time Square in Pretoria.
‘n Modelloopbaan wink dalk vir dié gr.R-onderwyser by Laerskool Jeugkrag wat reeds op vyfjarige ouderdom met modelwerk begin het.
“My ma het my vir my eerste modelkompetisie ingeskryf,” het Leana verklap.
Haar ouers was daarna ietwat huiwerig om hul dogter vir dié mededingende bedryf uit die nes te laat vlieg, maar deesdae is dit vir haar tweede natuur om in hoë ‘polfaais’ die loopplank te betree.
“Ek is glad nie senuweeagtig voor die tyd nie,” het sy gesê.
Haar aanvanlike skok en verbasing toe Top Model haar op 33-jarige ouderdom geskakel het, het plek vir dankbaarheid gemaak.
Leana se geloofspad sluit verreikende mediese probleme in met ‘n skildklierkankerdiagnose in 2009 en behandeling vir borsgewasse.
“Ek het geleer dat kanker nie noodwendig vir ons ‘n doodsvonnis moet wees nie, maar eerder ‘n genadepad wat jy saam met God stap.”

Sy en Jaco, ‘n besige sakeman op die dorp, is in 2014 getroud en hul seuntjie, Rudi, was skaars vier-maande-oud toe die groot ‘K’ by haar gediagnoseer is.
Die bestraling het beteken dat twee weke soms verbygegaan het terwyl sy in die afsonderingsaal was.
Loopbaangewys het Leana haar vaardighede in grafiese ontwerp, inligtingstegnologie en die moets en moenies van grimeerskuns en skoonheid geslyp, voordat Rudie se ‘dysgraphia’ haar boeke toe gejaag het vir onderwysstudies.
In dié seuntjie se geval is die siekte neurogebaseerd waar ‘n onvermoë bestaan om reg te skryf. Uiteraard sal voorkoms vir Leana, veteraan van vyf operasies verlede jaar, nie ligtelik opgeneem word en haar oupa se woorde bly haar by.
“Hare is ‘n vrou se kroon,” het hy aan die kleinkinders gesê.
Leana is reeds vir ses jaar ‘skoon’.
Moet ook nie dink dat sy van haar streng dieet gaan afwyk nie, hoewel Jaco se vernuf in die kombuis moontlik ‘n kilojoultjie of wat kan bydra tot die lesing op die skaal.
Besonderhede oor die groot aand vir dié Mej. Standerton van 2002 kan op haar Facebook-profiel gevolg word, sowel as op Instagram en Leana het al van die Standerton Advertiser se voormalige redakteur, mnr. Wayne van der Walt, se kundigheid as fotograaf gebruikgemaak.
“Met dié platform wil ek nie net ‘n model wees nie, maar ‘n rolmodel en spreekbuis vir vroue, wat nie weet hoe om op te staan en aan te beweeg nie,” het sy mee afgesluit.




