Kolonel groet polisiediens na 41 jaar
Willie sien uit daarna om sy stokperdjies nou meer te beoefen
SECUNDA – Kol. Willie Nel, wat vir jare die stasiebevelvoerder van Secunda Polisie en verskeie ander polisiestasies was, is ‘n man van vele talente.
Hy roep binnekort die polisiediens vaarwel toe as hy aftree met sy 60ste verjaarsdag.
Hy was vir 41 jaar en twee maande in die polisie.
Kol. Nel se loopbaan in die polisiediens het in 1979 op Ficksburg begin nadat hy sy basiese opleiding in Pretoria voltooi het.
Van die hoogtepunte van sy loopbaan was die kere wat hy na Ovamboland by die grens van Noord Namibië gestuur is.
“Ek het dit gedoen terwyl ek nog ongetroud was,” het kol. Nel gesê.
Hy is in 1983 na die speurtak op Clocolan in die Vrystaat verplaas en hy het destyds vir die polisie rugby gespeel.
Hy het sy provinsiale kleure in diensskiet verwerf en geniet dit vandag steeds om in sy vrye tyd te jag.
Hy het in 1985 by die spesiale wageenheid in Pretoria begin werk waar hy diens gedoen het in die kantoor van die Staatspresident.
“Dit was nogal ‘n aanpassing vir my om na Pretoria te verhuis.
“Die eenheidbevelvoerder het nog vir my gesê: ‘Jy is ‘n plaas-polisieman, wat soek jy hier?’
“Ek het gesien die ouens in die stad leer baie en doen baie verskillende dinge.”

Hy is in 1986 na die BBP (baie belangrike persoon)-eenheid verplaas en het dit geniet om ministers en bekendes, soos Margaret Thatcher op te pas terwyl sy en haar gevolg die Kruger Nasionale Park besoek het.
Hy het ook na die oorlede destydse Unita-leier, Jonas Savimbi van Angola omgesien, asook Marti Atesari, destydse president van die Verenigde Nasies.
Kol. Nel het destyds verskeie posseëls van verskillende lande versamel toe hy destyds in die kantoor van die staatspresident gewerk het waar daagliks duisene posstukke ontvang is.
Hy het sy versameling later vir ‘n vriend wat ook posseëls versamel het, gegee.
Hy het later eers op Evander gewerk en is nog later na Bethal Polisiestasie geskuif waar hy die stasiebevelvoerder was.
Hy het hierna Bethal vir Secunda verruil waar hy die stasiebevelvoerder by Secunda Polisie was vanaf 1997 tot 2018 toe hy as adjunk-klusterbevelvoerder bevorder is.
Kol. Nel was vir 26 jaar ‘n stasiebevelvoerder.
“Secunda was nie in die begin vir my ‘n maklike stasie om die bevelvoerder van te wees nie, maar Bethal was vir my ‘n slypsteen om my voor te berei vir Secunda,” het kol. Nel gesê.
“Ek het baie goeie ondersteuning destyds van die gemeenskap op Bethal gehad en hier op Secunda ook.
“Deur die gemeenskap te betrek by die polisie se projekte en aspekte van die polisie, het baie goeie vrugte afgewerp.
“Al die voorsitters van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het my projekte en die polisie se gholfdae ondersteun.”
Kol. Nel het die gemeenskap, asook mnr. Tas van Staden wat gehelp het met die GPF en me. Tracey van Wyk wat gehelp het om die traumakamer by die polisiestasie destyds op die been te bring, bedank.

“Dié mense se hulp en bystand sal my altyd bybly.
“Verskeie ondernemings, en veral Sasol, het ‘n groot rol gespeel gedurende my dienstyd op Secunda.
“Die ondernemings op Secunda se hande was ook altyd oop as die polisie se hulpbronne nie altyd so volop was nie.”
Kol. Nel was in 2013 met kolonkanker gediagnosee, maar het die stryd oorwin. Hy het gesê dit was ‘n moeilike paadjie om te stap.
‘n Deel van sy kolon is destyds verwyder en hy moes chemoterapie ondergaan terwyl hy steeds elke tweede week gewerk het.
“Die chemoterapie was nie ‘n aangename ondervinding nie. Op die vierde dag van chemoterapie voel ‘n ou jy wil doodgaan, maar jy kom daardeur.
“Ek het ‘n baie goeie ondersteuningsstelsel gehad, veral van my vrou, Corrie en my twee dogters.”
Kol. Nel sien uit na sy aftrede en het gesê hy gaan nou meer tyd op sy stukkie plaas buite Bethal bestee en skildwapens in die vorm van klein geweertjies maak.
Hy het homself geleer om dit te maak, maar hy het slegs tyd gehad om sowat 10 ‘n jaar te maak omdat dit baie tyd neem.
Hy doen dit al vir jare as ‘n stokperdjie.
Kol. Nel is ook ‘n ywerige truksvy- en advokadoboer en het sy eie groentetuin op ‘n stukkie grond buite die dorp asook in sy erf op die dorp.
Hy is lief vir tuinmaak en is trots op sy tuin. Die Nel-egpaar het reeds een kleinkind en hulle tweede kleinkind sal in September sy opwagting maak.




