Stephen Ashington praat uit ondervinding as dit by samelewingsprobleme kom
Sy lewensfilosofie wentel om respek vir ander en jouself en dat ’n probleem aangespreek word voor dit onbeheerbare afmetings aanneem.
Mnr. Stephen Ashington, huishoudelike hoof by die SAVF se Krisissentrum, is by uitnemenheid geskik om die weerloses in die samelewing weer op koers te kry.
“Ek het ‘n harde pad geloop,” het hy gebieg.
“As ek aan my verlede terugdink, hoe en wat ek was, kan ek nie glo dit was ek nie.”
Stephen is reeds drie jaar ‘skoon’ en is ook vir dié tyd by die sentrum werksaam.
Dié man het 20 jaar gelede van eMlalahleni (Witbank) na Durban geryloop en uiteindelik op Standerton opgeëindig.
“Toe haak ek hier vas,” het hy gesê.
Hy was ‘n kontroleur by Transnet in Durban tot voor sy vrou, Isabel, se afsterwe en moes na haar dood sy eie potjie krap.
“Dit was ‘n afwaartse kurwe in my lewe, maar sal nie weer gebeur nie,” het Stephen bygevoeg.
Stephen het die voormalige huishoudelike hoof van die sentrum, me. Doreen Kleynhans, destyds leer ken toe hy vir ‘n paar maande nesgeskrop het op die dorp voordat die teerpad hom weer geroep het.
Durban se Ark Christian Ministries, wat nou nie meer bestaan nie, was die omkeerpunt in sy lewe en tydens die Standerton Advertiser se onderhoud met hom, getuig ‘n bordjie ‘Geloof’ op sy lessenaar van sy oortuigings.

Haweloses en straatkinders is by dié Christelike-sentrum ingeneem met probleme wat gewissel het van dagga- tot alkoholverslawing.
“Ek het baie buite geslaap, oorgelewer aan die elemente.”
Stephen se seun, wat sy naam dra, is reeds 10 jaar vermis en dié ouer het die roete met die polisie tot by psigiatriese inrigtings geloop om hom op te spoor, sonder enige sukses.
Net sy seun, Clive, by wie hy onlangs in Durban gekuier het, is in die land.
Sy dogters Colleen en Belinda woon albei in Australië, maar hy kon ‘n Skype-sessie met Colleen doen terwyl hy by Clive tuisgegaan het.
Dié wewenaar is oupa van agt kleinkinders.
Die onderhoud met die koerant is onderbreek toe ‘n jong man in die krisissentrum na ‘pa’ gesoek het.
Stephen is douvoordag op om te begin met sy dagtake, die papwater word opgesit en toebroodjies word vir die skoolkinders gemaak voordat die inwoners, volgens ‘n rooster, begin opwas en skoonmaak.
Hy hou toesig en moet gereed vir ‘n noodgeval wees soos iemand wat siek word of ‘n vrou wat wil kraam.
Met verwysing na bedelaars, het hy die algemene siening beaam dat mense moet erken dat hulle ‘n probleem het, voordat enige ingryping in hulle lewens moontlik is.
Sy lewensfilosofie wentel om respek vir ander en jouself en dat ‘n probleem aangespreek word voor dit onbeheerbare afmetings aanneem.
Hy tree wel af in Oktober, maar beskou sy lewe tans as ‘n hoogtepunt.
“Nou is die beste tyd van my lewe,” het hy mee afgesluit.




