Magda Kriel hou leisels stewig vas by die Georgies
Magda is in die bevoorregte posisie dat haar man, Herman, haar klankbord is en dié familievaste mense hou tradisioneel elke jaar iewers Kersfees, in mekaar se teenwoordigheid.
Me. Magda Kriel, hoof van Hoërskool George Hofmeyr, se ruim kantoor is verwelkomend met rustige pienke en groene en ook helderkleurige klippies in ‘n erdebak, wat ‘n verhaal van hul eie vertel.
“Ek is baie lief vir mooi goed en dié items het uiteindelik ‘n doel gekry,” het Magda gesê.
Wanneer leerders die hoof besoek, kan daar met die klippies gespeel word wat die ontboeseming ietwat vergemaklik.
“My klippies dien ‘n terapeutiese doel,” het sy bygevoeg.
Daar was egter geen klippies in haar skoen ten tye van haar spesialisering in verstandelik, erg-gestremde onderwys nie.
Gewapen met ‘n huishoudkundediploma in 1974, het sy in die laat 70’s deeltydse studies deur Unisa en die Universiteit van Potchefstroom aangepak en ‘n graad verwerf.
“Ek het in spesiale onderwys spesialiseer, ‘n jaar waargeneem as skoolhoof en in 2015 die pos aanvaar.”
Magda het wat haar onderwysloopbaan van 45 jaar betref, drie mentors uitgesonder wat waardevolle bydraes gelewer het.
Wyle onderwyskundige en latere parlementslid van Standerton, mnr. Willa Hefer, mnr. Lappies Labuschagne wat sy in haar Potchefstroom-jare leer ken het en mnr. Pieter Bester, voormalige hoof van die Georgies.
Struktuur word vooropgestel sonder om afbreuk te doen aan die menswees van die leerders.
“Ek raak nie in ‘n bekgeveg met iemand betrokke nie.
“Ek stel gedrag en respek eerste, met prestasie wat ‘n bonus is.”
Die Georgies se prestasies is onder meer ‘n 100 persent slaagsyfer sedert 2008 toe daar met gr.12’s begin is.
Magda is in die bevoorregte posisie dat haar man, Herman, haar klankbord is en dié familievaste mense hou tradisioneel elke jaar iewers Kersfees, in mekaar se teenwoordigheid.
“My ma van 85, wat alleen bly en haar eie ding doen, is ook by.”
Reëlings om al haar mense op een plek bymekaar te kry, beteken dat sommiges se teenwoordigheid na volgende keer moet oorstaan.
Haar seun Gielie en dogter René het nie ‘n onderwysloopbaan gekies nie, wat nog te sê van Jaco, wat vir die Lions uitdraf.
Magda is ook ouma van een seuntjie en vier dogters met in haar eie woorde, uiteenlopende karakters.
Sy glo aan ‘n holistiese benadering en is daarom betrokke by netbal, atletiek en kultuuraktiwiteite.
“Die aanstellings by Hoërskool George Hofmeyr is handgekose mense wat by ‘n diverse kultuur inpas,” het Magda mee afgesluit.
“Ons werk soos ‘n familie in spanverband saam. Ek is dankbaar vir die personeel wat ek het.”



