Oosterland-leerder sterf in Evander hospitaal
Begrafnis met beperkte hoeveelheid mense vind Dinsdag plaas
SECUNDA – Marnus de Lange (17), ‘n matriekleerder aan Hoërskool Oosterland, is op Maandag, 6 April in sy ma se arms in Evander Hospitaal dood.
Volgens sy ma, me. Yolandi Loggenberg, het hy op Sondag, 29 Maart van hoofpyn gekla.
“Hy en sy oudste boetie word nooit siek nie, so dit was vir my vreemd dat hy so verskriklike hoofpyn gekry het,” het me. Loggenberg gesê.
“Hy het geëet en gaan slaap en in die middel van die nag wakker geword en weer oor hoofpyn gekla.
“Maandagoggend het hy opgegooi en later saam met sy boetie op die bed gaan lê en flieks kyk.
“Hy het toe ‘n aanval gekry en geruk en ons het die ambulans gebel.”
Marnus is na Evander Hospitaal geneem en me. Loggenberg het vir die mediese personeel gesê sy dink hulle moet toetse op die brein doen omdat hy die aanvalle gekry het en sy gedink het daar is iets met sy brein fout.
“Hy het ses aanvalle op die bed langs sy boetie gekry en nog een in die ambulans van ER24 oppad hospitaal toe,” het me. Loggenberg gesê.
Sy kon haar seun die hele week wat hy in die hospitaal was nie besoek nie weens die 21 dae van inperking, maar sy het die hospitaal daagliks geskakel om te hoor hoe dit met hom gaan.
Mediese personeel het gesê hulle vermoed hy het breinvliesontsteking gehad.
Die hospitaal se personeel het haar op Vrydag, 3 April geskakel en gesê sy moet op Maandag, 6 April hospitaal toe gaan.
Toe sy daar aangekom het, wou hulle uiteindelik toetse op sy brein doen nadat hulle reeds verskeie ander toetse gedoen het en niks verkeerd gekry het nie. Dit was egter toe reeds te laat.
Toe me. Loggenberg Maandag by die hospitaal aangekom het, het sy nog ‘n rukkie met Marnus gepraat voordat hy skielik opgehou asemhaal het.
“Ek het die susters twee of drie keer geroep en geskree hy haal nie asem nie.
“Ek moes uit die kamer gegaan het terwyl hulle met hom besig was. Hy kort hierna dood.”
Marnus was aan ‘n suurstofmasjien gekoppel terwyl hy in die hospitaal was.
Hy laat sy ma en drie broers agter.
Me. Fiona Pelman van die nie-winsgewende welsynsorganisasie, Secunda Gratis en Verniet, het teen laatmiddag Dinsdag reeds genoeg geld ingesamel om vir Marnus ‘n begrafnis te hou.
“Ek voel soos ‘n zombie en is al moeg gehuil,” het me. Loggenberg gesê.
“Ek probeer sterk wees vir my ander kinders.”
Sy sal Marnus, wat in Mei sy 18de verjaardag sou vier, onthou as ‘n wonderlike kind wat altyd vriendelik en liefdevol was en grappe gemaak het.
“Hy het goed geteken en wou ná skool ‘n kunstenaar of platejoggie word.”
Volgens me. Loggenberg het Marnus graag kitaar gespeel en musiek op sy foon opgeneem.
Marnus se pa, mnr. Herman de Lange, is 18 jaar gelede op ‘n soorgelyke manier dood.
“Marnus se pa het in Januarie 2001 ook van hoofpyn gekla en het ook aanvalle gekry.
“Hy is ook in die hospitaal opgeneem en hy is ‘n dag later in die hospitaal dood.”
Me. Loggenberg het in 2001, op die dag van die begrafnis, uitgevind sy is swanger met Marnus.
Me. Pelman het Marnus se begrafnis vir vandag (14 April) gereël, maar weens die koronavirus en grendelstaat, sal mense net op uitnodiging die begrafnis kan bywoon.
Hoërskool Oosterland se skakelbeampte, me. Liné de Vries, het gevra dat almal vandag (Dinsdag) om 11vm wanneer die begrafnis gaan plaasvind, in gees saam met die familie sal wees en vir hulle sal bid.




