Herman Grobler is ’n meesterbouer van radio-beheerde modelvliegtuie
‘n 64 jarige radio-beheerde-model-vliegtuig bouer wat sy stokperdjie begin het toe hy ses jaar oud was.
SECUNDA- Vanaf navorsing, na beplanning, na ontwerp, na bou, tot vlug…
Mnr. Herman Grobler (64), ’n entoesias van radio-beheerde modelvliegtuie, is ’n meesterbouer van hierdie “speelgoed” wat deur mense van alle ouderdomme geniet word.
Hy bou modelvliegtuie vanuit die nuut op sedert hy ses jaar oud was.
Mnr. Grobler begin sy bouproses deur eers sorgvuldig navorsing oor ’n spesifieke vliegtuig te doen.
Hy bestudeer hoe die model moet lyk, hoe groot dit moet wees en besluit dan watter vliegtuig hy wil bou.
Die meeste van sy navorsing kom uit boeke oor skaaltekeninge van vliegtuie.
Hy het spesifieke belangstelling in vliegtuie van die eerste wêreldoorlog.
Sodra hy klaar sy navorsing gedoen het oor ’n spesifieke vliegtuig, gebruik hy ’n rekenaarporgram genaamd “AutoCAD” om die planne vir die vliegtuig uit te lê en met ’n laser-masjien die dele uit te sny wat hy dan aanmekaar sit.

Die enigste onderdele wat hy aankoop , is die enjins en so elke nou en dan die skroef (propeller), en natuurlik enige draad en skroewe wat hy vir die aanmekaarhegting benodig.
Mnr. Grobler het ook ’n tuisgemaakte toestel gebou waarmee hy die die sterkte, die draaispoed en die lugdinamika van die vliegtuigskroef toets.
Hierdie toetse word gedoen om te kyk of ’n skoef geskik is om die vliegtuig wat hy bou te laat vlieg.
Mnr. Grobler maak ook van tyd tot tyd sy eie vliegtuigskroewe met die hand, van groot tot klein, asook van dié wat in die teenoorgestelde rigting draai.
Hy verkies om self die skroef te maak, omdat dit verskriklik duur is om aan te koop, veral afhangende van hoe groot hulle is en uit watter soort hout of plastiek dit gemaak is.
“Die prys kan wissel tussen R80 tot soveel as R2 000. Daarom vind ek dit soms beter om my skroewe met die hand te maak” het mnr. Grobler gesê.
Hy bestee sowat ses ure per naweek en een tot twee ure soggens tydens die week aan die navorsing of bouwerk van die vliegtuie.
Dit neem vir mnr. Grobler tussen drie tot ses maande om ’n vliegtiug te voltooi, afhangende van die skaal waarop dit gebou word.
Die vliegtuig waaraan hy tans werk, is ’n Fokker EIII wat op ’n kwartskaal gebou word. Die voorste deel van dié vliegtuig in uit “litho plate”, ’n dun vel verharde aluminium. Die res van die raamwerk van die vliegtuig is van Del-hout gemaak.




