Fritz bou miniatuurmodelle om inkomste te midde Covid-19 te genereer
Op die vraag oor hoe hy sy werke bemark, het hy gese dat hy nie die "fêncy" goed soos Facebook regtig verstaan nie.

In weerwil daarvan dat mnr. Fritz Müller (65), soos vele ander Suid-Afrikaners in die inperkingstyd voor moeilike uitdagings te staan kom, het hy nie sy lot betreur nie, maar sy tegniese kennis en vaardighede ingespan om die beste van ‘n slegte saak te maak.
Die afgetrede mnr. Müller van Piet Retief, was jare lank ’n motorwerktuigkundige, en uit sy beroep het die idee voortgespruit om miniatuurvragmotors, mynvoertuie, bosbouvoertuie en selfs hengelgereedskap te vervaardig.

Dié skeppings is ook nie sommer net saamgeflanste werke nie, maar klinkklare bewyse van sy veelgeprese vakmanskap.
Vragmotors se gereedskapskiste kan oopgemaak word en die inhoud sluit onder andere koppelkabels (jumper cables), moersleutels, skroewedraaiers en ander gereedskap in.

Mnr. Müller stel voornemende klante gereeld skertsend gerus dat lisensieskyfies, wat op die vensters vertoon word, geldig is.
Op die vraag oor hoe hy sy werk bemark, het hy gese dat hy nie die “fêncy” goed soos Facebook regtig verstaan nie.
“Hopelik sal mense op die dorp onder mekaar gesels en belangstelling só geprikkel word.”
Enige iemand wat navraag wil doen of mnr. Müller ondersteun, kan hom gerus by 072 214 0234 skakel.
Lees gerus die volledige onderhoud met mnr. Müller in vandeesweek se Hoëvelder.




