Geliefde en welbekende Tannie Foeta Joubert sterf
Vanaf 16 Junie 1951 tot 28 Februarie 1989 was Tannie Foeta vroedvrou en verpleegkundige by Bethal Hospitaal.
BETHAL – Tannie Foeta Joubert, soos almal haar geken het, was ‘n geliefde en welbekende naam in baie mense se harte.
Tannie Foeta is op 22 Februarie 1929 op die plaas Driehoek in die Bethal-distrik gebore.
Sy het ook hier grootgeword. Sy het haar laerskooljare by die plaasskool op Driehoek voltooi, maar is daarna na Hoërskool Hoogenhout waar sy in 1944 matriek geslaag het.
Tannie Foeta het ná skool as vroedvrou geleer en het haar sertifikaat verkry op 22 Oktober 1951.
Vanaf 16 Junie 1951 tot 28 Februarie 1989 was Tannie Foeta vroedvrou en verpleegkundige by Bethal Hospitaal.
Tannie Foeta is op 26 Julie 1952 in die huwelik bevestig met Christiaan Gerhardus Joubert (Chris) wat as bouer vir die Bethal Munisipaliteit gewerk het.
Die egpaar het twee seuns, Bennie en Sarel. Toe die seuns onderskeidelik agt en nege jaar oud was, is hul pa oorlede en Tannie Foeta het die seuns verder alleen grootgemaak.
Sy het vir meer as 20 jaar by Residentia Palmoord gewoon en was die laaste paar jaar in die verwsakte-eenheid versorg omdat sy weens ‘n heup- en knievervanging nie meer kon loop nie.
Die laaste twee maande voor haar dood het sy by familie gaan woon.
Tannie Foeta is op die oggend van 21 Mei in die ouderdom van 91 oorlede.
Sy laat haar twee seuns , ‘n skoondogter, ses kleinkinders en 10 agterkleinkinders na.




