Local newsNews

Pierre van Schalkwyk werk aan eerste CD

Akteur betree musiekwêreld

SECUNDA – Pierre van Schalkwyk (24) se eerste CD sal binnekort die lig sien.

Dié jong sanger wat op Secunda grootgeword en aan Hoërskool Oosterland gematrikuleer het, het ná skool drama en teater aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Hy het nadat hy sy studies voltooi het, gesukkel om werk in die vermaaklikheidsbedryf te kry hoewel hy ‘n paar rolle in verhoogproduksies losgeslaan het.

Ná Pierre vir tientalle oudisies vir televisie-rolle gegaan het, het hy begin wonder of die loopbaankeuse om ‘n akteur te wees, wel die regte een vir hom was. Hy was in die proses om reëlings te tref om in Suid-Korea te gaan Engels gee toe hy ‘n rol in ‘n klein teaterproduksie in Kaapstad gekry het.

Hy was op Secunda terwyl hy reëlings getref het om Suid-Korea toe te gaan, maar hy is terug Kaapstad toe vir die verhoogproduksie en het toe vir sy agent gevra of daar enige ander oudisies beskikbaar is.

Toe Pierre in die verhoogproduksie gespeel het en vir die oudisie vir Suidooster gegaan het, het hy besef dit is wat hy wou doen en hy het sy planne om Suid-Korea toe te gaan, laat vaar.

Hy het die rol van ‘n skurk losgeslaan in die Kaapse sepie, Suidooster, en hy was in die begin van dié jaar op die stel vir verfilming.

Pierre van Schalkwyk se eerste CD, Studentejare, sal binnekort beskikbaar wees.

Die dele van Suidooster waarin hy verskyn is in Maart op televisie uitgesaai.

“Dit was baie interessant en ek het dit baie geniet,” het Pierre gesê.

“Ek het soos ‘n kind op ‘n groot speelgrond gevoel en ek het net gevoel ek hoort daar.

“Dit was ongelooflik om saam met bekende akteurs wat ek as kind op televisie gesien het, soos Annelisa Weiland, te kon werk.”

Pierre het dit nog altyd geniet om te skryf en het in die donkerste tye in sy lewe toe hy gesukkel het om rolle te kry, lirieke geskryf.

Hy moes op skool en toe hy op univesiteit was, hoor hy kan nie sing nie, maar dit het hom nie gekeer om voort te gaan met sy droom om ‘n CD op te neem nie.

“Ek het al begin glo ek kan nie sing nie, maar ek het ook besef met passie en deursettingsvermoë kan jy enige iets regkry.”

Sangers soos Johannes Kerkorrel, Jan Blohm en Laurika Rauch het Pierre geinspireer om die lirieke vir sy eerste CD te skryf.

Pierre het ook gesukkel om iemand te kry om die lirieke te toonset totdat sy pad met mnr. Riaan Steyn gekruis het en wie hom toe gehelp het om die CD op te neem.

Pierre van Schalkwyk is lief vir honde.

“Ons moes die CD binne drie dae opneem, want die president het toe aangekondig dat Suid-Afrika in ‘n grendelstaat sou gaan,” het Pierre gesê.

Dié CD, getiteld Studentejare, bevat agt liedjies vanuit Pierre se pen en vier reeds bekende liedjies wat deur ander sangers geskryf is.

My musiek is wie ek is en dit moet ‘n storie vertel,” het Pierre gesê.

Die liedjies op die CD gaan oor hoe Pierre sy studentejare onthou en al die kere wat hy met mede-studente kon kuier en hoe hulle gesels het oor hul toekoms en wat alles

vir hulle sou voorlê.
Pierre onthou hoe hy as kind nog altyd daarvan gedroom het om ‘n akteur te word, hy het nooit gedink hy het talent om te sing ook nie. Musiek was nog altyd deel van

Pierre se familie, sy ouers is albei baie lief daarvoor om musiek te luister en sy suster, me. René van Schalkwyk, kan sewe musiekinstrumente bespeel.

Die grendelstaat het die vermaakbedryf swaar getref, maar Pierre is beïnduk met hoe kreatief akteurs en sangers in dié tyd is met aanlyn-vertonings en ander maniere om die pot aan die kook te hou.

Pierre hoop om, nadat die grendeltyd verby is, êrens voor ‘n gehoor op te tree.

“Ek gee nie om of dit vir 10 mense op Cradock is tydens ‘n klein konsert, of vir ‘n groot gehoor saam met ‘n orkes en ander kunstenaars nie. Ek wil in die oomblik leef en sal albei ewe veel geniet.”

Hy beskryf sy loopbane as akteur en sanger parallel met mekaar.

“Ek werk ewe hard aan albei.”

In sy vrye tyd geniet Pierre dit om te ontspan met ‘n glas wyn, om met vriende te kuier en om met hulle honde te speel.

Pierre van Schalkwyk is lief vir honde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button