Secunda se Ruan Graaff maak musiek saam met die bekendes
Graaff glo die Here het gemaak dat sy paaie met dié van Jo Black, Afrikaanse musiek-sensasie, kruis. Hy speel nou ekslusief in Jo Black se orkes as hoofkitaarspeler.
SECUNDA – Ruan Graaff, die hoofkitaarspeler vir die immergewilde Jo Black, kuier tans by sy ouers op Secunda totdat die staat van inperking gelig word en musikante weer na die verhoog kan terugkeer.
Graaff (26) het op Secunda grootgeword en het in 2012 hier aan Hoërskool Secunda gematrikuleer.
Hy was reeds op skool ‘n talentvolle kitaarspeler en het toe reeds sy oog op ‘n loopbaan in die musiekbedryf gehad.
Sy naam beteken juis “snaarinstrument” en die geestelike konnotasie daaraan is “vreugdevolle lofprysing”.
Hy het daarom ‘n Bybelteks uit Psalms wat op sy naam betrekking het, op sy binne-arm laat tatoëer.

Hy het ná skool na Pretoria verhuis om musiek te studeer. Hier het hy begin kitaarlesse aanbied en het hy in verskeie groepe as “huurmusikant” gespeel.
Hy was ook die hoofkitaarspeler vir die alternatiewe rock-groep My/Epic/ Vice.
Hy het selfs sy lyf leerling-sjef gehou in die televisie-program Lek jou lippe af.
“My groot droom was om die Afrikaanse musiekmark as sessie-kitaarspeler te betree. Ek wil eendag dié ou wees wat die kitaarspel op grootkunstenaars se opnames doen,” het Graaff erken.
En sy talent word wel deur bekendes raakgesien.
Sy eerste deurbraak in die Afrikaanse-bedryf was toe hy die sanger Ampie begelei het.
Sedertdien het Graaff al saam met bekendes soos Roan Ash, Bouwer Bosch en die Straatligkinders, Spoegwolf, Joe Foster, Martin Bester, Brendan Peyper, Jack Parow, Dozi en Refentse musiek gemaak.
Sowat drie jaar gelede het Marshall Instruments hul steun aan Graaff toegesê en bied hulle vir hom goeie afslag op die aankoop van enige van hul produkte.

“Dinge het net in plek begin val. Ek het besef dit is uitputtend om op myself staat te maak, en nou vertrou ek God ten volle,” het Graaff vertel.
Hy glo die Here het gemaak dat sy paaie met dié van Jo Black, Afrikaanse musiek-sensasie, kruis.
Graaff speel nou ekslusief in Jo Black se orkes as hoofkitaarspeler en word hy ook ‘n vaste salaris betaal.
Hy is ook telkens verstom oor die groot skares wat na ‘n Jo Black-vertoning opruk.
“Dis ongelooflik! Die Sun Arena is volgepak as ons optree. ”
Vir ‘n introvert, geniet Graaff nogal dié groot gehore.
“Dit is asof ‘n mens meer bewus is van die toeskouers as jy voor ‘n klein gehoor optree.”
Hy bewonder Jo vir sy deursettings-vermoë.
“Hy het baie hard gewerk om ‘n oornagsensasie te word. Jo is die Suid-Afrikaanse kunstenaar met die meeste vertonings in een jaar, tog bly hy nederig en is hy goed vir ons.”
Graaff sit wel sy kitaarlesse aanlyn voort vanuit sy ma, me. Rolien Smith, se huis.
Hy sien egter daarna uit om weer saam met Jo en die orkes op te tree sodra die inperking gelig word.




