Nalda Williams konsentreer nou op grootmaak van hondjies
Albei is daadwerklik betrokke by omgewingsbeskerming en die geskikte bestemming sal een dag die huis op Monzi wees.
Me. Nalda Williams van Standerton se dae is propvol met veral hondjies grootmaak, nadat sy vir die laaste keer kontroleer het of die krediteur- en debiteurrekening klop.
Die Williamse het nou vier, vier-been-kinders, wat tydens die onderhoud ook op hul regmatige stukkie aandag aangedring het.
Die bejaarde patriarg, Rooies en matriarg Ruby, het die geflikvlooi en kossoek van die jonges, Pippie en Lady meewarig gadegeslaan en besef iets belangrik gebeur toe ounooi sê hulle moet eers rustig word.
Behalwe vir dié Rhodesiese rifrugte laat Pieter, die African Grey, ook sy stem in die kombuis hoor.
Met die arbeidsmark se deur agter haar toegestoot, sorg sy veral nou vir Jan Taks se opgawes.
Verskeie maatskappye het in die verlede van Nalda se finansiële agtergrond gebruikgemaak waaronder die wapenvervaardiger, Denel en Standard Bank, toe sy nog ‘n alleenloper in Sodom en Gomorra was.
“Om te werk by sulke plekke is totaal en al anders as wat jy op skool geleer het,” het sy dit opgesom.
Hoërskoollewe vir dié koshuisbrak van Mtubatuba is deurgebring by Hoërskool Empangeni in KwaZulu-Natal.
Colin, ‘n gekwalifiseerde elektrisiën, het die prentjie handomkeer verander en die egpaar is in 2000 getroud.
Albei is daadwerklik betrokke by omgewingsbeskerming en die geskikte bestemming sal een dag die huis op Monzi wees.
Voëltjiering en data insamel is Colin se forte en geeneen sal onverhoeds betrap word as hulle besluit om ‘groen’ te gaan nie.
Nalda se liefde vir groente is ononderhandelbaar.
“Ek kan maklik ‘n vegetariër word behalwe dalk vir daardie skaaptjoppie met die krakerige stukkie vet.”
Die egpaar het ook verskeie wynproe-aande bygewoon en Nalda neig na ‘n goeie rooiwyn, maar sal nie haar neus optrek vir port in die winter, daar voor die kaggelvuur nie.
“Colin se proesintuig is beter as myne omdat ek gewoonlik net kan proe as die wyn te veel tannien in het.”
Op die tuisfront, is die twee kleinkinders Evan en Alivia, altyd welkome gaste.
Haar sterk standpunte oor politiek, nasionaal en internasionaal, strek ook tot geloof en oordenkingsmusiek spreek tot haar.
Die grendeltydperk word min of meer met vele onderbrekings beleef want daar is nie tyd om te lees nie, wat nog van winkel toe gaan.
Colin sal net moet onthou om brokkoli, blomkool en slaai in die trollie te laai en nie te vergeet van die hondekos nie.




