Local newsNews

Past. Cloete se dood skok gesin en gemeentelede

Terwyl hulle vir die ambulans gewag het, het past. Cloete vir sy vrou gesê dit is sy tyd om te gaan, die Here kom hom haal.

SECUNDA – ‘n Plaaslike herder en skrywer, past. Paul Cloete (56), is op Maandag, 29 Junie in Evander Hospitaal dood.

Volgens sy vrou, me. Mareina Cloete, het hy die Donderdag, 25 Junie begin sleg voel en gesukkel met sinus en is nie werk toe dié dag nie.

“Hy is dokter toe en het ander medisyne gekry, want hy het gesê die antibiotika wat hy gebruik het, werk nie,” het me. Cloete gesê.

Past. Cloete het Saterdagnag weer begin sleg voel en me. Cloete het die ambulans geskakel.

Terwyl hulle vir die ambulans gewag het, het past. Cloete vir sy vrou gesê dit is sy tyd om te gaan, die Here kom hom haal.

“Hy het so verby my gekyk, die heeltyd geglimlag en gesê hy gaan Oospoort toe.

“Ek het hom gevra om asseblief nie so te praat nie want ek het hom nodig en toe het hy gesê ons kan nie teen die Here gaan nie,” het me. Cloete vertel.

Hy is na Mediclinic Highveld geneem waar die dokter gesê het hy het longontsteking en hom na Evander Hospitaal verwys het omdat die gesin nie ‘n mediese fonds gehad het nie.

Past. Cloete is in Evander Hospitaal opgeneem en is die volgende dag, Maandag, 29 Junie dood.

Volgens me. Cloete het van die personeel by Evander Hospitaal gesê hy het Covid-19 gehad, maar daar is nie ‘n toets vir dit gedoen nie.

Sy roudiens het op Vrydag, 3 Julie by die begraafplaas op Trichardt plaasgevind.

Hy was die hoofpastoor by die Pinkster Protestante Kerk (PPK) Belzalel-gemeente op Trichardt en het voltyds by ‘n myn gewerk en opleiding gegee.

Past. Cloete het vier boeke geskryf, U Verhouding met God, wat ook in Engels uitgereik is, Vier Vriende onderdanig aan God en Die Almag van die Bonatuurlike.

Past. Cloete het laat in sy lewe teologie studeer en in sy pa, wat ook ‘n PPK-pastoor en evangelis was, se voetspore gevolg.

Hy het sy diploma in teologie in 2016 voltooi en daarna by die PPK Beltzalel-gemeente begin.

Hy het verskeie liedjies ook geskryf en kon klavier, kitaar, mondfluitjie, trekklavier en konsertina speel.

Past. Cloete se begrafnis is deur past. Gert Venter waargeneem.

Me. Cloete het gesê sy sal haar man onthou as ‘n wonderlike eggenoot, ‘n goeie pa en iemand wat altyd die goedheid in almal gesien het.

“Hy was liefdevol en het ‘n sagte hart gehad,” het me. Cloete gesê.

“Hy was die liefde van my lewe en het altyd vir my die beste probeer gee.

“Hoe gaan ek ooit hieroor kom?

“Een vertroosing is dat ek weet hy is by die Here.

“Ons kon nie vir ‘n beter man, pa en oupa gevra het nie.”

Past. Cloete word oorleef deur sy vrou, twee seuns, ‘n skoondogter en een kleinkind.

Past. Paul Cloete met van sy boeke wat hy geskryf het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button