Local newsNews

Dokters diagnoseer ma van vyf met MS

Nina moet stamselbehandeling kry en mediese fonds betaal nie

SECUNDA – ‘n Bekende gr. R-onderwyser van Laerskool Secunda en mamma van vyf kinders, me. Nina Pool, ly al vir 23 jaar aan veelvuldige sklerose (beter bekend as MS of multiple sclerosis).

MS is ‘n chroniese, inflammatoriese siekte wat veroorsaak dat die immuunstelsel die lagie wat die senuwees en neurone in die brein en rugmurg isoleer, aanval.

MS belemmer die kommunikasie tussen die brein en die liggaam en veroorsaak onder andere dat lyers sukkel om te loop.

Me. Pool het gesê die eerste tekens van MS het in 1998 begin wys, maar sy het toe nie besef dit was MS nie.

Sy het ‘n besige kwartaal gehad met atletiekafrigting by die skool waar sy destyds gewerk het en was ‘n naweek in Februarie baie moeg.

Sy het gedink dit was weens haar besige week gewees.

Sy het egter die Maandag by die skool begin sleg voel en kon teen die middag nie eers huis toe bestuur nie.

Sy het verskeie ondersoeke by dokters in Johannesburg ondergaan en ‘n neuroloog het gesê sy vermoed dit is een van twee siektes, waarvan MS een was.

Twee weke ná me. Pool se troue in 1999 en ‘n jaar ná die doktersondersoeke, terwyl sy en haar man, mnr. Cobus Pool, op wittebrood was by die Strand in die Kaap, het sy weer ‘n aanval gekry.

Hulle het op die strand gaan stap toe sy geval en ‘n verlammende gevoel in haar been gekry het.

Me.Nina Pool en haar vierling en oudste dogter, Realette,voordat sy haar hare laat afskeer het. Foto: Verskaf

Sy het dokter toe gegaan en na toetse en skanderings is sy finaal met MS gediagnoseer.

Die siekte het egter haar lewe nie so baie ontwrig nie, want sy het net so een aanval elke paar jaar gekry. Die tye tussen die aanvalle het verlede jaar egter al hoe korter begin raak.

Die egpaar woon al die afgelope 15 jaar op Secunda.

Me. Pool se oudste dogter, Realette, was 10 jaar oud toe die egpaar se vierling, twee identiese dogtertjies en twee identiese seuntjies, gebore is.

Me. Pool het ná Realette se geboorte weer probeer swanger raak omdat die egpaar graag nog kinders wou hê, maar dit het net nie gebeur. Hulle het naderhand aanvaar hulle sou nie nog kinders hê nie.

Die egpaar was dus verras toe hulle nege jaar terug uitgevind het me. Pool is weer swanger en geskok toe hulle uitgevind het sy verwag nie net een baba nie, maar vier.

Die Pools se vierling is nou al agt jaar oud en gr.2-leerders by Edu Detto op Secunda en Realette is ‘n matriekleerder by Hoërskool Secunda.

Me. Pool wil graag haar kinders sien opgroei en die enigste uitweg vir haar is om stamselbehandeling te kry.

Stamstelbehandeling is tans die enigste behandeling wat MS stop.

Dié behandeling kos egter sowat R400 000 en me. Pool se mediese fonds betaal dit nie.

Haar familie en vriendinne het begin om geld in te samel sodat me. Pool binnekort kan voortgaan met die stamselbehandeling.

Dit behels dat sy vir verskeie chemoterapie-sessies sal moet gaan en dan ‘n bloedoortapping kry wat die stamselle bevat.

Sy het reeds sowat drie weke gelede vir haar eerste chemo-sessie gegaan om die stamselle te oes en verlede week moes sy vir vyf dae in die hospitaal bly om kortisoonmedikasie te kry omdat die aanval wat drie weke gelede reeds begin het, nie opgehou het nie.

Me. Nina Pool in die hospitaal tydens die voorbereiding vir haar stamselbehandeling wat sy binnekort sal moet ondergaan. Foto: Verskaf

Na die kortisoonmedikasie-siklus voltooi is, moet sy weer chemo-behandeling kry voor die stamseloorplanting kan begin.

Me. Pool het ná haar eerste chemo-sessie al haar hare afgeskeer omdat dit begin uitval het.

Dit is baie belangrik dat sy in isolasie bly en haarself gesond hou nadat sy die stamseloorplanting ondergaan het.

“Die oorplanting behels dat ‘n mens eers chemo-behandeling ontvang wat jou imuunstelsel heeltemal afbreek,” het sy verduidelik.

“Jou imuunstelsel begin dan weer soos ‘n baba s’n, dit is hoekom dit dan uiters belangrik is om gesond te bly.”

Me. Pool se vriendinne het vir haar ‘n groep op Facebook, Nina se Stamsel Wonderwerk, gestig om geld in te samel. Belangstellendes kan geld skenk deur die webwerf, https://gogetfunding.com/an-ms-miracle-for-nina/ te besoek.

Weldoeners reeds deur middel van dié webwerf, bykans R70 000 van die beoogde R400 000 ingesamel.

Ouers van leerders wat al in me. Pool se klas was, het op sosiale media gesê sy is een van die onderwysers wat skoolgee omdat dit haar passie is.

“Dit was nie snaaks om Nina kruisbene op die vloer te kry waar sy met die kinders speel terwyl sy hulle leer nie,” het ‘n ouer gesê.

“Ek was geskok toe ek gehoor het Nina ly aan MS en ek kan nie dink watse pyn sy moet verduur nie, maar sy is altyd positief en gereed om vir ‘n leerder ‘n drukkie te gee.”

As jy me. Pool wil help of ‘n bydrae wil lewer, besoek die bogenoemde webwerf of haar Facebook-blad, Nina se Stamsel Wonderwerk.

Me. Nina Pool net voordat sy haar hare afgeskeer het. Sy moet chemoterapie ondergaan as deel van die voorbereiding vir die stamselterapie. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button