Local newsNews

Oud-onderwyser van Bethal sal gemis word

Slegs genooide gaste sal by roudiens toegelaat word

BETHAL – ‘n Bekende inwoner van Bethal, me. Mart-Marie Janse van Rensburg (74), is op Saterdag, 27 Junie aan ‘n hartstilstand dood.

Sy het op Woensdag, 24 Junie, ‘n operasie in ‘n hospitaal in Pretoria ondergaan en haar skielike dood was ‘n groot skok vir haar familie en die Bethal-gemeenskap.

Me. Janse van Rensburg het op Bethal by Hoërskool Hoogenhout skoolgegaan en ná skool in Pretoria onderwys studeer.

Sy het vanaf 1968 tot 1969 huishoudkunde en biologie by Hoërskool Newcastle gegee en is in 1970 met mnr. Theo Janse van Rensburg getroud.

Me. Janse van Rensburg het nadat sy getroud is, tot 1972 by Hoërskool Vryheid skoolgehou.

Sy het ná die geboorte van haar kinders vir agt jaar by die huis gebly en aandag aan hulle gegee voordat sy in 1979 weer ‘n werk as onderwyser by Jim van Tonderskool aanvaar het.

Sy het in 2006 afgetree as departementshoof by Jim van Tonderskool en haar met naald- en borduurwerk besig gehou.

Haar gesin sal haar onthou as ‘n netjiese, innemende persoon wat voluit geleef het vir haar familie en geliefd was in die Bethal-gemeenskap.

“Sy het naby aan haar Skepper geleef en het sterk Christelike beginsels in haar lewe toegepas,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.

Sy laat haar man van die afgelope 50 jaar, hul dogter en twee seuns, en vyf kleinkinders agter.

“Die kleinkinders het haar ouma Lief genoem en sy was deurlopend by hul vesorging en opvoeding betrokke,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.

Haar roudiens vind op 11 Julie vanuit die NG-Oos-gemeente op Bethal plaas en sal deur dr. Christi van Zyl waargeneem word, maar weens die Covid-19 pandemie sal slegs genooide gaste by die diens toegelaat word.

Die familie het almal bedank wat hulle gekontak het en ondersteun het gedurende dié moeilike tyd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button