Local newsNews

Manie en Lollie vier 50 jaar saam

Egpaar is dankbaar vir leeftyd saam en genade

EVANDER – Mnr. Manie en me. Lollie van den Berg, jarelange bekendes in stoeikringe en betrokke by die Sasol Stoeiklub, het op Saterdag, 6 Junie, hul 50ste huweliksherdenking gevier.

Die egpaar het mekaar in 1967 gedurende ‘n skoolvakansie ontmoet toe hul albei in matriek was.

Mnr. Van den Berg se ouers het destyds op ‘n plaas naby Standerton geboer en me. Van den Berg se ouers is in Augustus 1967 na die Departement van Landbou se proefboerdery-plaas langs die plaas van mnr. Van den Berg se ouers verplaas.

Die egpaar het in Mei twee jaar later verloof geraak en is in die jaar daarna in die Nederduits Gereformeerde Kerk op Charl Cilliers getroud.

Ná hul troue het sy ‘n oorplasing na Evander-poskantoor gekry en sy het gewerk tot voor die geboorte van hul enigste seun, mnr. Johan van den Berg wat vandag ook nouliks betrokke is by Sasol Stoeiklub.

Die egpaar bly sedert hul troue op Evander en het twee kleinkinders.

Hul geheim vir so ‘n lang en gelukkige huwelik is om daagliks vir die Here dankie te sê dat Hy iemand spesiaals in hul lewens geplaas het.

Die egpaar se loopbaan in stoei het begin toe hul seun se dokter aanbeveel het dat hy begin stoei omdat hy ‘n asmatiese bors gehad het.

Hulle het hom in 1976 by die Unicor Stoeiklub op Evander ingeskryf en mnr. Van den Berg is later as voorsitter verkies en me. Van den Berg as sekretaresse.

Hulle het in 1995 na Sasol Stoeiklub geskuif waar hul kleinseun, mnr. Nico van den Berg, steeds aktief betrokke is.

Mnr. Van den Berg is in 1993 vir die eerste keer as addisionele lid op die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie se komitee gekies en teen die einde van 1995 is hy as sekretaris-generaal verkies.

Hy beklee steeds dié posisie.

Me. Van den Berg het gesê hulle gee alle dank en eer aan God wat hulle deur al die jare behoed en bewaar het en is dankbaar om mekaar te hê.

Me. Lollie en mnr. Manie van den Berg het in Junie hul 50ste huweliksherdenking gevier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button