Helpende Hand loods nuwe projek vir behoeftige matriekmeisies
Die Droomrokke-projek is tans aktief by 18 Ons Winkels in die land en rokke en pakke word verhuur teen kostes wat net genoeg is om die klere te laat droogskoonmaak.
SECUNDA – Die Ons Winkel-tak op Secunda is een van die winkels wat deel vorm van Solidariteit Helpende Hand se nuutste projek om aandrokke en aandpakke aan leerders teen ‘n minimale bedrag te verhuur.
Die bekroonde Afrikaanse sanger en ambassadeur van Solidariteit Helpende Hand, Demi Lee Moore, pak dié Droomrokke-projek saam met Soliariteit Helpende Hand aan.
Me. Benette Welman, projekorganiseerder van Helpende Hand se Froue Vonds (stet), het gesê: “Elke vrou en meisie droom daarvan om pragtig te lyk op sekere spesiale geleenthede in haar lewe.
“Vir baie van ons was daar ‘n rok wat jou drome laat waar word het en jou mooiste dag net nóg mooier en beter gemaak het.
“Vir ander is geleenthede soos ‘n matriekafskeid egter ‘n uitdaging omdat hulle nie ‘n mooi rok vir die geleentheid het of een kan bekostig nie.”
Die Froue Vonds se leuse is: ‘Want alles loop nie altyd reg nie’ en dus word dié naam met opset verkeerd gespel.
Met die hulp van Ons Winkels landswyd en met die gemeenskap se samewerking, kan Helpende Hand sorg dat behoeftige matrikulante en studente spesiaal voel by hul matriekafskeid of geleenthede soos troues of dinees.
Die Droomrokke-projek is tans aktief by 18 Ons Winkels in die land en rokke en pakke word verhuur teen kostes wat net genoeg is om die klere te laat droogskoonmaak.
Me. Welman het vroue gevra om hul trourokke, matriekafskeidrokke of selfs dineerokke aan Ons Winkel op Secunda te skenk sodat hulle ander vroue en jong leerders se drome kan bewaarheid.
Mans kan ook hul pakke aan Ons Winkel skenk.
“Ons is baie opgewonde oor die projek, al is dit nog nie duidelik of almal vanjaar nog matriekafskeidfunksies gaan hou nie weens die Covid-19 pandemie,” het me. Welman gesê.
“Ons begin egter solank beplan en rokke insamel vir toekomstige geleenthede.
“Die rokke is vir ons ‘n roeping en gee vir ons ‘n rede om te dans.
“Demi Lee het ‘n hart om behoeftige meisies te ondersteun en het die voorstel gemaak dat ons die Droomrokke-projek op die been bring.”
Moore is trots daarop om deel van dié projek te wees. Sy het verlede jaar haar Afrikaans is Groot-rok asook haar Ghoema-rok aan Helpende Hand geskenk.
Moore het gesê: “Dié twee rokke het vir my so baie beteken.
“As dié rokke kon praat, sou dit vir jou presies kon sê wat daardie aande vir my beteken het en hoe dit my laat voel het.
“Daar is soveel meisies en vroue daarbuite wat nog nooit ‘n glansgeleentheid bygewoon het, of weet hoe ‘n droomrok voel nie.
“As jy ‘n rok besit wat eens jou droomaand waar gemaak het, maar wat nou nie meer gebruik word nie, wil ek jou vandag aanmoedig om dit aan die Droomrokke-projek te skenk.
“Kom maak saam met ons drome waar.”
Vir meer inligting, besoek Helpende Hand se webwerf by www.helpendehand.co.za of besoek die Ons Winkel op Secunda in die sentrale sakekern oorkant Mooove Gimnasium.



