Local newsNews

Ciara Potgieter (4) het hulp nodig vir koglea-inplanting

Ouerpaar samel geld in vir vierjarige wat nie kan praat

BETHAL – Klein Ciara Potgieter (4) hou daarvan om, soos enige ander vierjarige kind, buite rond te hardloop en te speel.

Dié gesellige jong dogtertjie ly egter aan ouditiewe neuropatie (Auditory Neuropathy Spectrum Disorder, ANSD), ‘n toestand wat veroorsaak dat die binne-oor suksesvol klanke kan optel, maar dit nie na die brein kan stuur nie.

Haar ouers, mnr. Jan en me. Rachelle Potgieter het 12 jaar vir haar gewag en beskou haar as ‘n wonderwerk.

Dokters het ná verskeie operasies vir me. Potgieter gesê sy sou nooit swanger raak nie.

Dié dokters is egter verkeerd bewys toe die egpaar se wonderwerkie op 7 Februarie 2016 op Bethal gebore is.

Me. Potgieter het, toe Ciara bykans twee jaar oud was, vir mnr. Potgieter gesê sy vermoed Ciara hoor haar nie.

“Ek het agtergekom as ek haar roep reageer sy nie. Toe het ek agter haar gestaan en my hande geklap en sy het glad nie omgekyk nie,” het me. Potgieter gesê.

“Sy het toe ook nog nie begin praat nie en ‘n vriendin het gesê ons moet haar ore laat toets.” Die personeel by die kleuterskool waarheen Ciara toe gegaan het, het ook gesê hulle vermoed sy kan nie hoor nie.

Die egpaar het Ciara vir gehoortoetse in Gauteng geneem, asook na ‘n breinspesialis wat bevestig het dat Ciara aan oditiewe neuropatie ly.

Die dokters het gesê as die egpaar wil hê hul dogter moet begin praat, sou sy so gou as moontlik koglea-inplantings moes kry.

Sy het verlede jaar in April ‘n koglea-inplanting in haar een oor gekry waarvoor die hospitaal betaal het, maar die tweede een moet die gesin self betaal en hulle het nie ‘n mediese fonds nie.

Dié operasie kos sowat R300 000.

Ciara Potgieter (4) geniet dit om op haar fietsie te ry.

Ciara kry al vir twee jaar spraakterapie en die gesin moet weekliks daarvoor Johannesburg toe ry.

Sy sien twee keer per week terapeute, een op Bethal en een by die Chris Hani Baragwanath Hospitaal in Soweto.

Die egpaar sukkel om met hul dogtertjie te kommunikeer. Hulle verstaan nie altyd wat sy wil hê nie en sy vestaan ook nie altyd wat haar ouers vir haar probeer sê nie.

Hulle leer tans vir haar handgebare sodat sy ten minste beter sal kan kommunikeer as die operasie nie sal kan plaasvind nie,

Die egpaar wil ook graag Ciara se koglea-gehooraparaat verseker omdat dié aparate baie duur is, maar op die oomblik kan hulle dit nie bekostig nie.

Mnr. Potgieter het eers ‘n permanente pos by ‘n meule op Bethal beklee, maar is sedert die begin van die jaar toe die meule personeel verminder het, ‘n kontrakwerker.

Sy salaris het verminder, maar hy is dankbaar dat hy ten minste maandeliks die huur kan betaal en kos kan koop.

Me. Potgieter sukkel om ‘n werk te kry wat haar weekliks twee dae sal afgee om Ciara vir spraakterapie in Johannesburg en op Bethal te neem.

Die gesin huur ‘n huis op ‘n plot en Ciara geniet dit om met die ander maatjies op die werf buite te speel of om met haar fiets te ry.

Hoe gouer Ciara die tweede koglea-implanting kan kry, hoe beter is haar kanse om te praat.

Volgens ‘n brief wat deur die Hear Always Foundation Trust uitgereik is, is kinders wat doof is, se kanse om te leer praat beter as hulle voor die ouderdom van drie die inplantings kry.

As hulle te oud is wanneer hulle dié operasies kry, is hul agterstand om te leer praat soveel groter.

Dié organisasie sal ook die finansies hanteer wat geskenk word vir Ciara se koglea-inplanting.

As jy wil help of ‘n bydrae wil lewer, skakel mnr. Potgieter by 071 296 0540 of me. Potgieter by 065 315 3848.

Ciara Potgieter by haar pa, mnr. Jan Potgieter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button