Nico Langeveldt en sy rugbyspanmaats gesels ’n hond uit ’n bos
Watter wedstryd wel genoem kan word, is sekerlik toe ’n Griekwa-uitnodigingspan teen die ‘Burgers’ kragte gemeet het.
Nico Langeveldt van Standerton, afslaer van beroep, se rugbydae is verby maar ‘n tweestuks vriende het ‘n besoek afgelê om hom te herinner aan die goue dae van klubrugby op Ermelo.
Andrew McLaren en Riaan Beukes het vanaf die buurdorp op Woensdag 8 Julie opgedaag om hul 1995-foto van Ermelo Rugbyklub te oorhandig, die verlede op te roep en die skrumwerk te bespreek.
Dié loskopstut se gesondheid het ‘n ernstige knou gekry wat hom rolstoelgebonde maak nadat kanker vroeër vanjaar by hom gediagnoseer is.
Die Langeveldts se huis in Meyerville is ingerig om voorsiening te maak vir sy fisieke toestand en die mediese uitgawes is uitsorteer.
Nico het skramsweg verwys na sy verlamming en geensins enige teken van op-moedverloor-se-vlakte getoon nie.
Hy het op sy dag vir Grey Kollege op Bloemfontein se eerstespan uitgedraf en ook vir die Vrystaat se 0/13-, 0/18- en 0/20-span as stut die wedstryde aangepak.
“Rugby is een van die moeilikste sportsoorte want jy mag slegs agteruit aangee om vorentoe te beweeg,” het hy doodluiters laat val.
Hy het saam met Frans Cronjé, Hansie se broer, dikwels by Grey meegeding en etlike jare later sou hy nog steeds verstom wees, hierdie keer op die gholfbaan, vir Frans se ball sense.
“Ek speel net gholf as dit moet,” het Nico onomwonde verklaar.
Nico se werksloopbaan het hom eers in die Noord-Kaap laat opeindig, daarom dat hy ‘n Griekwa-ondersteuner in murg en been bly.
Watter wedstryd wel genoem kan word, is sekerlik toe ‘n Griekwa-uitnodigingspan teen die ‘Burgers’ kragte gemeet het.
Almal was familie van mekaar met die van ‘Burger’, almal het óf provinsiaal óf nasionaal al erkenning gekry, en slegs drie klubspelers was ingesluit.
Die skeidsregter was ook ‘n ‘Burger’, reserwes inkluis.
Dit was onder meer Groot Schalk Burger, Kobus Burger, Niel Burger, Klein Schalk Burger en Freek Burger.
Nico het geweier om ernstig te raak, siende hy die rugby-onthale die meeste onthou.
“Die geselsery, kameraadskap en die swaarkry en lekkerkry van rugby bly jou by,’ het hy gesê.
André het ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi en goed onthou dat hy die voorry aangemoedig het met ‘n ‘kom nou boys!’.
Die gesprek het daarna gewentel om die nasionale span.
“Maar wag, wie sal ooit vir Os du Randt kan vergeet?”
Van die groot name in Springbok-rugby is daarna genoem.
“As die liewe Vader my net twee bene gee, gaan skrum ek weer.”




