AfriForum se Teks-tak verwyder vullis
Organisasie oorhandig memorandum aan Govan Mbeki Munisipaliteit
SECUNDA – AfriForum se Teks-tak, wat Trichardt, Evander, Kinross en Secunda insluit, het op Donderdag, 2 Julie, vullis by verskeie huise in die omgewing verwyder nadat Govan Mbeki Munisipaliteit nagelaat het om dit te doen.
Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, het gesê hul lede het die vullisverwyderingsaksie aangepak om die netheid van die dorpe wat AfriForum na aan die hart lê, te verseker.
Hy het mnr. Etienne Smit bedank wat sy voertuig en werkers beskikbaar gestel het om met dié projek te help.
AfriForum Teks het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om hand by te sit deur die groenstroke in hul omgewings af te kamp vir herwinning om die proses te vergemaklik.

Hulle het die gemeenskap ook versoek om druk op die munisipaliteit te plaas om dienslewering te verbeter.
Mnr. Du Plessis het op Dinsdag, 7 Julie, ‘n memorandum aan die munisipaliteit oorhandig.
Volgens dié memorandum, gee AfriForum die munisipalteit sewe dae tyd om met ‘n aksieplan vorendag te kom oor hoe hulle die vullis gaan verwyder.
“Aksies soos dié projek dien as ‘n konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself vir ‘n skoner, veilige en volhoubare toekoms moet beywer en self betrokke moet raak om probleme proaktief op te los,” het mnr. Bronwen Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum in die Hoëveld, gesê.
Hy het die gemeenskap aangemoedig om by AfriForum se projekte betrokke te raak.
Stuur ‘n SMS na 45350.




