AfriForum kan dalk Eskom hof toe sleep oor bykomende beurtkrag
“Eskom kan nie agter ’n kontraktuele remedie skuil en ’n onbillike proses volg deur bykomende beurtkrag toe te pas nie,” het mnr. Morné Mostert, bestuurder vir plaaslikeregeringsake by AfriForum, gesê.
Die burgerregteorganisasie AfriForum en Eskom kan moontlik in die hof koppe stamp oor die inwerkingstelling van bykomende beurtkrag vir agterstallige munisipaliteite.
Volgens ‘n persvrystelling, pas die kragreus tans nie net landwye beurtkrag toe nie, maar ook bykomende beurtkrag in die geval van sekere munisipaliteite.
Dit laat sommige gemeenskappe met slegs vier uur van krag per dag.
Die vrystelling het voortgegaan om te sê dat verbruikers in baie gevalle hul elektrisiteitsrekeninge getrou aan die betrokke munisipaliteit betaal, maar dat dié munisipaliteite dan versuim om dit aan Eskom oor te betaal.
AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die howe te nader vir ‘n bevel om dié besluit te hersien indien Eskom nie hierdie wanpraktyk staak nie.
“Eskom kan nie agter ‘n kontraktuele remedie skuil en ‘n onbillike proses volg deur bykomende beurtkrag toe te pas nie,” het mnr. Morné Mostert, bestuurder vir plaaslike regeringsake by AfriForum, gesê.
“Eskom neem dié besluit, wat grootskaalse skade aan gemeenskappe aanrig, in die afwesigheid van enige openbare deelnameproses. Die besluit is beslis ongrondwetlik en voldoen nie eens aan die standaarde van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 nie.”
Volgens mnr. Mostert, is dit vreemd dat Eskom hierdie klousule oral in werking stel waar munisipaliteite reeds agterstallig is.
“Dit blyk dat Eskom hierdie klousule gebruik om druk op munisipaliteite te plaas om hul agterstallige skuld te betaal.
Daar is ‘n reeks ander remedies beskikbaar wat Eskom kan gebruik, maar Eskom verkies om die een te gebruik wat die meeste skade berokken.”
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, het gesê dat Eskom nou ‘n geval skep waar hulle die verbruik van elektrisiteit kelder deur die maksimum-aanvraag-klousule te gebruik.
“Wanneer Eskom moontlik later vanjaar ‘n terugwerkende aansuiweringsaansoek (RCA) wil bring, gaan hulle egter nie die gebrek aan verkope gebruik om die risikorekening aan te vul nie,” het dr. Brink mee afgesluit.
“Dit kan moontlik tot ‘n kragtariefverhoging lei en hulle kan nie self ‘n situasie skep, maar later hoër tariewe van die verbruiker verwag nie.
“Hulle moet billike prosesse volg wat aan toepaslike wetgewing voldoen.”



