BETHAL – Me. Mhyste van Wyk het onlangs weer eens pryse ingeryg vir verskeie soorte kaas wat sy gemaak het.
Me. Van Wyk en haar gesin woon al 20 jaar op ‘n plaas buite Bethal.
Sy het destyds toe sy met skool klaargemaak het, haar eerste melkbokke aangeskaf en melk verkoop aan vroue wat baba’s gehad het wat allergies was vir beesmelk.
Sy was nog altyd lief vir diere en sy het na skool in ‘n landbourigting aan die Technikon in Pretoria studeer en later by die landbou-navorsingsraad (LNR) in die stad gewerk.
Me. Van Wyk het werk gekry by die staatsveearts in die omgewing nadat sy en mnr. Van Wyk getroud is en sy het vir 12 jaar daar gewerk voordat sy onderwys studeer het en by Hoogenhout begin werk het.
Sy het geskiedenis, biologie en landbouwetenskap vir agt jaar by Hoërskool Hoogenhout gegee.
Me. Van Wyk het in 2016 die skool vir die plaas verruil sodat sy meer tyd aan die kuns van kaas maak kon bestee.
Die Van Wyk-egpaar woon sedert 1997 op die plaas buite Bethal. Sy het toe reeds begin om joghurt en kaas van die bokmelk te maak.
Toe die egpaar destyds hul eerste kind verwag het, het mnr. Van Wyk gesê me. Van Wyk moes tussen die kind of die bokke kies.
“Ek het toe maar my kind gekies,” het sy laggend vertel.
Sy het later ook vleisbokke aangeskaf.
Toe haar twee kinders bietjie ouer was, het hulle die bokke vir die jeugskou ingeskryf.
Me. Van Wyk het later weer melkbokke aangeskaf en met hulle geskou en het ook begin om kaas van hul melk te maak.
Die melkbokke bly gewoonlik vir twee maande jaarliks droog, maar weens die koronavirus en die inperking met baie winkels wat toe was en feeste wat gekanseleer is, is die bokke nou al vir vier maande droog.
Me. Van Wyk maak verskeie soorte harde- en sagte kase uit die bokmelk, asook joghurt.

Sy het in 2015 ‘n drie dag-kursus oor hoe om kaas te maak bygewoon.
Sy het sedertdien aan verskeie kompetisies deelgeneem en pryse vir haar kase, joghurt en botter ingeryg en het ook ‘n tweede plek vir verwerking behaal in die
Mpumalanga Vroue-boer van die Jaar-kompetisie.
Vir dié kompetisie moes sy wys hoe sy die kaas maak en wat haar verwerkingsproses alles behels.
Die beoordelaars het op die plaas gaan kuier en gekyk hoe me. Van Wyk alles doen.
Me. Van Wyk het in 2017 by die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap tweede plekke behaal vir haar skaapkaas, naamlik, Moonshine, vir haar bokbotter en haar varskaas, en ‘n derde plek behaal vir haar Feta-kaas.
Sy het in 2016 by dieselfde kampioenskap die Qualité-toekenning vir haar bokmelkbotter verwerf en is as die Suid-Afrikaanse kampioen in dié afdeling aangewys.
Sy het die jaar vóór dit by dieselfde kampioenskap weggestap met die eerste plek vir haar swartwoud sjokolade kaastruffels en tweede geëindig met haar gegeurde skaapjoghurt.
Me. Van Wyk het in dié jare ook toekennings en pryse by ander kompetisies, onder andere die Bloemfontein Skou ingepalm.
Haar dogter, Mhyné (19), help me. Van Wyk om die kaas te toets, te bemark en te verkoop.
Om kaas te maak, is ‘n lang proses en die kaas neem enige iets van drie weke, as dit ‘n sagte kaas is, tot twee maande of langer as dit ‘n harde kaas is, om gereed te kry voordat dit verkoop kan word.
Me. Van Wyk wil nog blou kaas ook maak, maar sy sal dan aparte bakke en toerusting asook ‘n aparte vertrek vir dit moet kry, want die spoor van blou kaas bly orals.
Die kaas waarvan sy die meeste houom te maak is BLB-kaas.
BLB staan vir blerrie lekker bokkaas.
“Ek het gewonder wat ek dié semi-harde kaas kan noem en toe het ek ‘n oulike naam gekry,” het me. Van Wyk gesê.
Met die kaasmakery kry me. Van Wyk nie eintlik tyd vir ander stokperdjies nie, maar sy geniet dit om nuwe soorte kaas te probeer maak.
Een van die kase wat sy maak, is ‘n mengsel tussen bok- en skaapmelk.
Sy verkoop haar kaas aan ‘n paar winkels in omliggende dorpe en op feeste, asook by die Kaaskamer in Gauteng.
Net voordat die inperkingstyd begin het, sou sy kaas voorsien het aan ‘n winkel op Dullstroom, maar met die inperking het dié winkel hul bestelling gekanseleer.
Me. Van Wyk geniet die plaaslewe en het gesê sy maak op Sondae net sagte kase omdat dit minder werk verg as harde kaas.




