Laerskool Kruinpark daag skole uit om te herwin
Secunda Recycle Project maak dit maklik vir inwoners om hul vullis te herwin
SECUNDA – Drie plaaslike ingenieurs en projekbestuurders, mnre. Paul Steyn, Martyn Redelinghuys en Janus Visagie, het onlangs die ‘Secunda Recyle Project’ begin en hul doel is om Secunda ‘n voorloper vir herwinning in Suid-Afrika te maak.
Hulle glo die meeste mense in die omgewing sal die regte ding doen en herwin as dit vir hulle net so maklik was soos wanneer ‘n mens dit op die sypaadjie vir die munisipaliteit uitsit om dit te verwyder.
“Ons het tydens die inperking, toe dinge so bietjie anders gewerk het as onder normale omstandighede en ons meer by die huis was, besef hoeveel vullis jy in ‘n huishouding genereer,” het mnr. Steyn gesê.
“Die meeste mense herwin nie hul vullis nie, want hulle weet nie hoe nie of het nie tyd om na die plekke waar die vullis herwin word te ry en dit daar af te laai nie. Ons wil dit nou vir mense maklik maak om hul vullis te herwin.” Dié drie vriende het mense aangemoedig om hul herwinbare rommel wat plastiek, papier, aluminium blikke, glas en karton insluit, in groen sakke te plaas en dit op die dae wat hulle herwinbare vullis verwyder, buite hul erwe te plaas.
“Dit is belangrik dat mense net herwinbare vullis in die groen sakke sit en nie ander vullis nie,” het mnr. Redelinghuys gesê.
Hy het ook genoem dat dit belangrik is dat mense die bottels of houers wat hulle wil laat herwin, vinnig met water uitspoel want anders sal die vuil bottels die ander skoon herwinbare produkte besmet.

“Ons wil die verantwoordelike ding doen en as mense nie hul bottels uitspoel nie, beïnvloed dit die hele vrag,” het mnr. Redelinghuys gesê. Die drie mans het op Saterdag, 1 Augustus begin om die groen sakke met herwinbare vullis by huise op Secunda en Evander op te laai en na eMbalenhle te neem waar dit gesorteer en herwin sal word.
Mnr. Visagie het gesê hulle wil graag met dié inisiatief die mooi natuur beskerm en hy het die gemeenskap gevra om by hul projek betrokke te raak en dit te ondersteun.
Hulle wil minstens ‘n duisend mense op Secunda en die omgewing betrokke kry sodat hulle dié projek volhoubaar sal kan bedryf en bestuur. Laerskool Kruinpark het reeds betrokke geraak en het ander skole in die omgewing uitgedaag om ook by die ‘Secunda Recycle Project’ betrokke te raak.
Die drie mans het gesê daar sal ‘n prys wees vir die skool wat die meeste mense kry om by dié inisiatief aan te sluit. As jy belangstel en jou vullis wil laat herwin, besoek die ‘Secunda Recycle Project’ se Facebook-blad of besoek hul webwerf by www.thesecundarecycleproject.co.za.
Die herwinbare vullis moet verkieslik in ‘n groen plastieksak geplaas word, maar as mense nie groen sakke in die hande kan kry nie, kan hulle dit in gewone swartsakke ook sit, die span sal dit steeds verwyder op die spesifieke dae wat hulle herwinbare vullis verwyder. Die groen sakke word eerder gebruik sodat die herwinbare vullis van die munisipale vullis onderskei kan word.
Dit kos R30 maandeliks en belangstellendes moet hul besonderhede op die webwerf invul.





