Sistiese firbrose-lyer kort hulp weens kragprobleme op Bethal
Brandstof vir kragopwekker kos gesin bykans R5 000 maandeliks
BETHAL – Lizette Neveling (12) weet nie hoe dit voel om soos ‘n normale kind van haar ouderdom buite te speel en rond te hardloop nie.
Sy kan sedert die begin van 2018 nie meer skool toe gaan nie omdat sy te siek is.
Lizette is met sistiese fibrose gebore en haar gesondheid het sedertdien drasties agteruit gegaan.
Sistiese fibrose affekteer die longe, asemhaling, spysverteringstelsel en ander organe in die liggaam en dit beïnvloed die selle in die liggaam wat slym produseer.
Lizette sukkel om te eet en moet voeding deur ‘n buis kry.
Omdat sy sukkel om asem te haal, is sy permanent aan ‘n suurstofmasjien ook gekoppel.
Die elektrisiteit in Bethal wat soms die hele dag af is, is ‘n groot probleem vir dié gesin.
Lees ook: Bethal and eMzinoni residents unite
‘n Plaaslike vulstasie het Lizette se gesin met ‘n kragopwekker geborg, maar omdat die krag so baie af is op Bethal, het dit bykans R5 000 maandeliks gekos vir brandstof vir die kragopwekker en dieselfde vulstasie het ook dié bedrag maandeliks vir die gesin geborg, maar hulle het egter laat weet dat hulle van September af net R2 000 maandeliks sal kan borg en daarna gaan stop met die borge.
“As die krag so baie af is, gebruik Zettie twee tot drie suurstofbottels wat eintlik net vir nood daar is,” het haar ouma, me. Johanna Lombard, gesê.
Die onderneming wat die suurstof verskaf, gee net een maandeliks.
“Ons maak dan maar ‘n ander plan om nog suurstofbottels in die hande te kry of om nog brandstof vir die kragopwekker te koop,” het me. Lombard gesê.
Die kragopwekker gebruik 25l in twee dae as die krag so baie af is en as die krag langer aanbly, gebruik die kragopwekker so 25l in drie dae.
Toe Lizette onlangs weer by haar dokter in Johannesburg was, het hy gesê sy sal vir twee weke op ‘n drup moet wees omdat haar longtoestand verswak het.
“Ons dink daaraan om na ‘n ander dorp te trek waar die krag nie so baie af is nie, ons kan regtig nie so aangaan nie.
“As dit net beurtkrag is vir vier ure daagliks, is dit nog okay, maar om so lank sonder krag te sit, is vir ons ‘n groot probleem.”

Om te verhuis sal egter ander probleme en uitdagings vir die gesin veroorsaak.
“Lizette se pa werk nou by ‘n onderneming waar die bestuur baie goed vir hom is.
“Hy was vir ‘n maand af en in die hospitaal en hulle het hom steeds betaal.
“Hy sal nie êrens anders werk kry nie want sy gesondheid is ook nie goed nie.”
Mnr. Andries Neveling, Lizette se pa, het nierprobleme en is pal in pyn.
Hy sukkel ook om te eet weens sy gesondheid.
“As Lizette so uitasem is, wil sy nie eet nie en sy moet gewig optel.
“Ons weet nie wat om te doen nie, want ons sal eerder trek as dat ek my kleinkind verloor,” het me. Lombard gesê.
Lizette se ma, me. Louise Neveling ontvang maandeliks ‘n Sassa-toelaag vir haar en Lizette.
Die gesin moet egter maandeliks of soms twee keer ‘n maand na Johannesburg ry waar Lizette vir haar opvolgondersoeke by die hospitaal moet gaan.
As jy die gesin wil help of ondersteun, skakel me. Lombard by 064 908 8552.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/142884/mamma-huil-verniet-ek-gaan-nog-lank-lewe/



