Lindiwe en tannie Toen help Azalea-gemeenskap prakties en spiritueel
Lindiwe en tannie Toen het in die verlede uit eie sak kos gekoop en voorberei, maar geleidelik is donasies ontvang en hulle word in ’n mindere mate finansieel bygestaan.
Twee vroue van Azalea laat geen steen onaangeroer om die lewensomstandighede van diegene in nood te verbeter nie.
Me. Lindiwe Fortuin en tannie Toen Theron, wat onderskeidelik lidmate van die AGS Kerk en die VGK is, het ‘n groep gestig om liggaam en siel van minderbevoorregtes voorop te stel.
Dié groep is nie denominasiegebonde nie en bestaan ook uit mnre. Willem Steyn, Vincent van Zyl, Hennie Pienaar en me. Denise Plaatjies.
“Azalea se grootste probleem is armoede, met dienslewering wat kort op die hakke is,” het me. Fortuin gesê.
Leerders van tussen ses en 14 jaar kan dalk baat vind by ‘n sopkombuis indien die planne realiseer om ‘n struktuur in ‘n erf vir dié doel te gebruik.
Die gerief in Maraistraat het egter ‘n dak nodig.

Sowat 80 kinders kry tans kos op die Tonkin-plaas met mee. Margaret Tonkin en Marie du Preez wat bystand verleen.
Lindiwe en tannie Toen het in die verlede uit eie sak kos gekoop en voorberei, maar geleidelik is donasies ontvang en hulle word in ‘n mindere mate finansieel bygestaan.
Lindiwe het drie kinders, Johan, Sanna en Innocentia en is ouma van vyf kleinkinders, terwyl tant Toen se Ella vyf kinders het, met sewe kleinkinders wat hul opwagting gemaak het.
Bewese ondervinding in die sakewêreld by drie ondernemings op die dorp, kan Lindiwe goed te staan kom in die nuwe inisiatief.
Dit was eers toe haar man, past. Esau Fortuin haar aangemoedig het om in die gemeenskap te werk, dat sy haar energie daarop gefokus het.
“Die Here het gesien ek werk alleen,” het sy bygevoeg.
Met dapper en stapper gaan die twee vroue van huis tot huis om mense by te staan.
“Dit hou ons besig en hoewel ons stadig stap, gaan ons voort,” het tannie Toen gesê.
Albei het sterk standpunte oor deursigtigheid wat donasies betref en nimmer as te nooit sal slegs een persoon aanwesig wees as ‘n skenking ontvang word.
Die komitee hou boek van alles wat inkom.
Kettinggroepwinkels op Standerton skenk van tyd tot tyd blikkieskos en klere, maar die grendeltydperk het die prentjie verander.
“Kerke is leeg, mense is bevrees, kinders word verkrag, rusies vier hoogty en water loop in die strate,” het Lindiwe van die probleme opgenoem.
Tussen die swaarkrystories put die vroue wel bevrediging uit hul werk.
“Die lekkerste is om liefde oor te dra en mense se liefde te beleef,” aldus Lindiwe.
“Die grootste ding wat ontbreek, is liefde,” aldus tannie Toen.
Nou dra hulle maskers en gaan voort met hul werk.
“Al sluit julle my in ‘n glaskas toe, ek sal die werk doen,” het tannie Toen mee afgesluit.
Donasies kan in die tussentyd by die kantore van die Standerton Advertiser, Burgerstraat 13B afgegee word.




