Ma van vyf doen goed na stamselbehandeling
Belangstellendes kan vrou steeds finansieël ondersteun
SECUNDA – Me. Nina Pool, ma van vyf kinders, onder andere ‘n vierling, en gr. R-onderwyser by Laerskool Secunda, het in Julie stamselbehandeling ondergaan.
Sy ly al vir 23 jaar aan veelvuldige sklerose (beter bekend as MS of multiple sclerosis) wat verlede jaar tot so ‘n mate vererger het dat me. Pool die stamselbehandeling moes begin oorweeg.
Sy kon nie meer gaan werk nie en het gesukkel om te loop en te praat soos wat die siekte haar liggaam afgetakel het.
Die Ridge Times het vroeër vanjaar berig dat me. Pool geld nodig het vir die stamselbehandeling omdat die mediese fonds dit nie dek nie.
Sy het toe R400 000 benodig waarvan sy nou reeds R115 000 ingesamel het.
Sy moet egter weekliks vir fisioterapie gaan, asook maandeliks vir bloedtoetse en opvolgondersoeke by die dokters in Gauteng om haar vordering te monitor.
Me. Pool sterk goed aan en kon, toe sy vanuit die hospitaal ontslaan is einde Julie, net drie treë loop dan moes sy gaan sit en rus. Nou stap sy elke oggend om die blok.
Sy beoog om teen die einde September langer ente en om twee blokke te stap.
“My dokter het gesê ek vorder goed. Ek moet net geduldig wees, want die herstelproses is lank,” het me. Pool gesê.
Die stamselbehandeling het ingesluit dat sy ook chemoterapie moes kry en dit het haar hare, wenkbroue en wimpers laat uitval.
Sy glo haar hare sal binnekort weer vinniger begin groei.
Die stamselbehandeling takel ‘n mens se imuunstelsel heeltemal af en me. Pool moet nou in isolasie bly en so min as moontlik met mense in aanraking kom.
“Ek voel goed hoewel ek vinnig moeg word,” het me. Pool gesê.
“Ek glo die siekte is gestop.”
Sy moet volgende jaar weer vir ‘n breinskandering gaan, dan sal haar neuroloog kan sien hoe haar liggaam herstel het.
Haar vierling, twee dogtertjies en twee seuntjies, is terug skool toe sedert die skole weer heropen het ná die inperkingstyd en haar matriekdogter leer tans tuis vir haar rekordeksamen.
Me. Pool gaan weekliks vir fisioterapie en die fisioterapeut fokus op haar fynere bewegings en haar balans as sy loop.
Die Pool-egpaar woon al die afgelope 15 jaar op Secunda en me. Pool verlang na haar gr. R-kinders vir wie sy skool gehou het.
Sy hoop om volgende jaar as die skole weer begin, terug by die skool te wees en glo sy sal dan gesond genoeg wees om weer te kan skoolhou.
Me. Pool se vriendinne het vir haar ‘n groep op Facebook, Nina se Stamsel Wonderwerk gestig om geld in te samel. Belangstellendes kan geld skenk deur die webwerf, https://gogetfunding.com/an-ms-miracle-for-nina/ te besoek.
Me. Pool is dankbaar vir ‘n tweede kans op lewe en het almal wat al ‘n bydrae gelewer het en haar ondersteun, bedank.



