Local newsNews

Roleen Nelson oorwin borskanker en is dankbaar

Vrou weier dat dokter haar bors afsit weens kanker

EVANDER – Me. Roleen Nelson (50) het gevoel of die mat onder haar uitgeruk is toe sy verlede jaar met borskanker gediagnoseer is.

“Die dokter het vir my gesê hulle gaan my een bors afsit en ek het gesê nee, ek aanvaar dit nie,” het me. Nelson vertel.

Sy moes later ‘n onkoloog in Pretoria sien wat verdere toetse gedoen het en vir haar gesê het sy het 3de graadse kanker en die kanker is in haar bors en in haar limfklier.

“Die dokter het vir my gevra of hy nie iemand saam met my kan stuur nadat hy my die nuus meegedeel het nie, want hy is bang ek loop voor ‘n bus in.

“Ek het gesê nee, ek wil alleen wees. Ek het begin bid toe ek by sy spreekkamer uit is en vir die Here gesê ek ken nie die pad nie en Hy moet my help.

“Ek het ‘n totale rustigheid ondervind soos nog nooit tevore nie.

“My ma en kinders was in ‘n toestand toe ek hulle vertel en ek moes hulle kalmeer.”

Me. Nelson is meegedeel dat sy chemoterapie sou ondergaan en dat die dokters haar nie kan waarborg dat dié behandeling sou werk nie.

“Ek het die sterkste vorm van chemo, die een wat hulle ‘Red Devil’ noem, gekry.

“Ek het gebid en vir die Here gesê die dokter sê dit kan dalk nie werk nie, maar ek weet by U is enige iets moontlik en dat die kanker sal weggaan soos wat die chemo deur my are vloei.”

Me. Nelson het vir ses maande behandeling ondergaan en die knoppies op haar bors het verdwyn en dié op haar limfklier het kleiner begin word.

Sy het in Oktober verlede jaar ‘n brief by die maatskappy waar sy toe gewerk het, gekry dat hulle mense gaan aflê.

Sy het toe reeds 25 jaar vir dié maatskappy gewerk en het weer gebid en die Here gevra waarheen nou.

Me. Nelson het tussendeur haar chemoterapie vir twee weke gewerk en net die week wat sy behandel is, afgevat by die werk.

Nadat die kanker verwyder is, moes sy ook verskeie bestralingsessies ondergaan.

Sy het dit in dié tyd oorweeg om haar eie onderneming te begin, om ‘n dagsorgsentrum oop te maak of ‘n kosstalletjie by Unicordam, maar niks van haar planne het uitgewerk nie.

“Dit was asof die Here vir my gesê het wag net. Ek is so dankbaar daaroor, want toe is die afleggingsproses by my vorige werk so uitgerek dat ek eers in die inperkingstyd vanjaar afgelê is.

“As ek voor die inperkingstyd ‘n dagsorgsentrum of kosstalletjie-onderneming begin het, sou dit in elk geval nie gewerk het nie.”

Nadat verskeie familielede en vriende me. Nelson gevra het hoekom sy nie die eiendomsmark betree nie, het sy al die agentskappe op die dorp geskakel en sy werk nou sedert April by Seeff.

“Gedurende die inperkingstyd het ek al my opleiding by Seeff op die internet voltooi en teen die einde Mei het ek my eerste stuk grond verkoop.”

Me. Nelson is dankbaar vir dié werksgeleentheid en glo die Here het haar aangeraak en genees van die kanker.

Sy wil mense bemoedig en het gesê as jy voel jy is moeg en wil nie meer aangaan nie, hou net vas aan die Here.

Verskeie mense het al vir haar gesê sy inspireer hulle omdat sy so moedig gebly het en altyd positief was gedurende haar pad met kanker.

“Ek en die ander kankerpasiënte in Pretoria het mekaar bemoedig en die liedjie, ‘Waymaker’, het vir my baie beteken, ek het dit altyd geluister terwyl ek chemoterapie gekry het.”

Me. Roleen Nelson toe sy chemoterapie ondergaan het wat haar hare laat uitval het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button