Slangvanger Oosie sê dit is nou slangseisoen
As jy hulp benodig om 'n slang te verwyder, skakel adj.-off. Oosthuizen by 076 051 0710 of me. Chantelle Prinsloo by 082 926 0033 of mnr. Hein Alberts by 082 291 5344.
SECUNDA – Adj.-Off. Oosie Oosthuizen vang slange as sy nie diewe vang nie.
Sy het op Dinsdag, 8 September die eerste oproep vir die seisoen van ‘n slang in iemand se erf gekry.
Die slang, vermoedelik ‘n rinkhals, het ‘n hond in Krokodilrivierstraat op Secunda gepik. Die hond het binne 15 minute ná pik gevrek.
Toe adj.-off. Oosthuizen by die huis aangekom het, was die slang reeds skoonveld.
Sy het verduidelik dat ‘n rinkhals baie gevaarlik en giftig is.
“Hulle kan tot 3m ver spoeg en hulle spoeg gewoonlik vir jou oë,” het adj.-off. Oosthuizen gesê.

Sy het gesê dit is uiters belangrik om so gou as moontlik by die hospitaal of nooddienste uit te kom wanneer jy deur ‘n slang gepik of gespoeg word.
Sy het wenke gegee oor wat ‘n persoon te doen staan wat deur ‘n slang gepik is.
“Moenie paniekbevange raak nie, bly kalm.
“Die persoon of dier wat deur die slang gepik is, moet dadelik na die hospitaal of veearts geneem word.
“Moenie die gif probeer uitsuig nie en moenie tuisgemaakte doepas gebruik nie.
“Moenie probeer om die slang self te vang nie, skakel eerder ‘n kenner wat kan help om die slang te vang.
“Let op watter kleur die slang is en hoe hy lyk.”
Adj.-Off. Oosthuizen het gesê as die slang gif in iemand se oë gespoeg het, moet die oë met lopende kraanwater vir minstens 20 minute gewas word en die persoon moet dadelik hospitaal toe, of na die veearts geneem word as dit ‘n troeteldier is wat gespoeg is.
Sy het die gemeenskap herinner dat nie alle slange giftig is nie en dat mense genoeg tyd het om by die hospitaal of veearts uit te kom.
As jy hulp benodig om ‘n slang te verwyder, skakel adj.-off. Oosthuizen by 076 051 0710 of me. Chantelle Prinsloo by 082 926 0033 of mnr. Hein Alberts by 082 291 5344.
Volg Secunda Snake Handlers se bladsye op Facebook en Instagram.




