Local newsNews

ATKV se Kosmosrandtak op Secunda verkoop weer strikke vir kankerbewusmaking

Ondersteun projek en help ’n kankerpasiënt

SECUNDA – Die ATKV Kosmosrandtak se jaarlikse Kanker-omgeeprojek, ook bekend as die strikkeprojek, het op 1 Oktober afgeskop.

Die voorsitter van dié tak, me. Tracey van Wyk, het die gemeenskap aangemoedig om hulle te ondersteun.

Die doel van dié projek is om kankerbewusmaking te bevorder en om geld in te samel wat gebruik word om kankerpasiënte en hul gesinne te ondersteun met enige iets van kos tot brandstof om ‘n kankerpasiënt vir behandeling te neem.

Die ATKV verkoop jaarliks gekleurde strikke wat om bome of pale vasgemaak word om die gemeenskap bewus te maak van die nood van kankerpasiënte.

Daar is in verskillende kleure wat geel (kinderkanker), pienk (borskanker), blou (kanker onder mans) en pers (enige kanker) insluit, beskikbaar.

Kansa se kantoor op Secunda het vroeër vanjaar toegemaak en die ATKV is een van die min organisasies wat kankerpasiënte in die omgewing ondersteun.

Me. Van Wyk het gesê die inperkingstyd het dit moeilik gemaak vir die ATKV om geld in te samel en hulle verkoop gewoonlik strikke by Marietjie Skool se Lentemark ook, maar dit vind vanjaar eers in Desember plaas.

Sy het skole aangemoedig om ook aan die ATKV se projek deel te neem deur ‘n strik of borsspeld wat aan ‘n hemp gesteek kan word, teen R20 elk te koop.

Me. Van Wyk moes deur die jare al talle leerders van skole op Secunda bystaan nadat hul ouers weens kanker dood is.

Sy het ook die ondernemings op Secunda en in die omgewing uitgedaag om die projek te ondersteun en vir hul personeel strikke te koop.

Dié ATKV-tak gaan op Saterdag, 31 Oktober by die Boere Mall by Lake Umuzi ook strikke verkoop en bewusmaking doen Die tema vir dié Boere Mall gaan ook oor kankerpasiënte wees.

Me. Van Wyk se woorde van bemoediging aan elke kankerpasiënt is: “Ek salueer jou. Hou jou oë gerig na bo. Laat toe dat God jou deur jou beproewinge dra. Moenie dit alleen probeer doen nie. Kyk om jou, kyk na bo en jy sal sien hoe baie liefde daar vir jou is. Sterkte. Ons bid vir jou. Jesusliefde.”

Dié projek duur tot 30 November.

Die Faith4U-boekwinkel by die Kruik Kerk sal ook strikke verkoop en belangstellendes kan daar gaan koop, of by die Boere Mall, of me. Van Wyk skakel by 074 103 6381.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button